Spyskaart +

Studente ervaar eerstehands selfdoen-sukses

Julie 13, 2015 deur Alet Rademeyer

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum het verlede week tien studente by aksies en projekte betrek waar hulle eerstehands die sukses van selfdoenaksies kon ervaar.
Die studente wat lid is van AfriForum Jeug se universiteitstakke, het in groepe saam met die koördineerders van AfriForum verskeie munisipaliteite se werk gedoen in dorpe waar die regering nie hul grondwetlike verantwoordelikhede nakom nie. Hulle was betrokke by die regmaak van slaggate, skoonmaak van vullisterreine en strate, opknap van begraafplase asook die behandeling van besoedelde rivierwater.

Marike van As, ’n koördineerder vir die internskapprogram het gesê dat die doel nie is om die regering se werk vir hulle te doen nie, maar om te fokus op die behoeftes van landsburgers en te kyk hoe AfriForum ’n verskil kan maak in gemeenskappe.
Pieter Strauss, lid van AfriForum Jeug se Kovsies-tak, het gesê: “AfriForum praat en tree namens sy lede op en wend ’n sterk poging aan om by te dra tot die verbetering van hul lewensomstandighede’’

Strauss het saam met Hein Gonzales, provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, gewerk met die probleme van rioolstorting in die Vaalrivier.
Die studente het gesê dat hulle elkeen voel asof hulle ’n werklike verskil kon maak deur fisies te werk aan die probleme wat plaaslike regerings nie doeltreffend hanteer nie.
Wessel de Lange van AfriForum Jeug se Elsenburg Landboukollege-tak het gesê dit gaan sy verstand te bowe dat plaaslike regerings die moeite doen om padtekens op te sit wat motoriste waarsku oor slaggate, in plaas van om die probleem dadelik op te los. “In so geval is selfbesluitneming en selfdoen beslis die antwoord.”


Marthinus Jacobs van AfriForum Jeug se Tukkies-tak het verduidelik dat hy nou ’n beter idée het waarvoor AfriForum staan. “Ek het nie besef hoe doeltreffend AfriForum seldoenaksies uitvoer nie, en dit is goed om te weet dat hulle nie net hofsake en bevele ondersteun nie, maar self optree en probleme oplos.”
Die student het dit ook geniet om nuwe mense te ontmoet en take te verrig wat buite hul “gemaksone” was.


Paul Maritz, lid van AfriForum Jeug se NWU-kampus, het gesê dat hy dit geniet het om in Kimberley begraafplase op te knap omdat hy voel asof hy ’n erfenis help bewaar het.
Die internskap het ook ten doel om studente te help om te groei en vaardighede aan te leer of te ontwikkel wat eendag tot hul voordeel kan wees in die werksomgewing.
Ernst Marais, lid van AfriForum se Tukkies-tak het gesê dat hy beslis eendag vir ’n organisasie soos AfriForum sal wil werk. “AfriForum is ’n baie suksesvolle en uitkomsgerigte organisasie. Hulle glo in resultate en sukses en ek deel hierdie seining.”

Sien al die foto’s hier