Spyskaart +

Stryd begin teen Volksrust-naamsverandering

Julie 10, 2015 deur Alet Rademeyer

Talle inwoners van Volksrust in Mpumalanga is glad nie gelukkig oor die Dr. Pixley ka Isaka Seme plaaslike munisipaliteit se planne om dié geskiedkundige dorpie se naam na Elangwane te verander nie.
In die lig hiervan het AfriForum met ’n nasionale petisie-veldtog begin ter behoud van die dorp se naam.

Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder in Mpumalanga, het gesê die petisie en ’n memorandum sal volgende maand aan die munisipale bestuurder van die dorp en Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, oorhandig word.

“Die voorstelle om die dorp, strate en geboue se name te verander is polities gedrewe en skep polarisasie. Die ANC het geen respek en waardering vir die erfenis en geskiedenis van Afrikaners nie. Die naamsveranderings sal ook ’n groot hap uit die provinsiale regering en munisipaliteit se begrotings vat wat ’n direkte negatiewe impak op dienslewering aan belastingbetalers sal hê.”

Gonzalez het daarop gewys dat die jongste verslag van die ouditeur-generaal aangetoon het dat die munisipaliteite in Mpumalanga in die 2013/2014-geldjaar sowat R2 miljard verkwis het.

Volksrust het ’n ryk geskiedenis en is naby die KwaZulu-Natal-grens. Dit is sowat 240 km van Johannesburg en 80 km vanaf Standerton.
Die dorp is in 1888 op die plase Boschpad Drift, Rooibult, Verkyk en Zandfontein uitgelê en in 1889 deur pres. Paul Kruger geproklameer. Die dorp het sy naam gekry van Dorothea (Dorie) de Jager, suster van Dirkie Uys, wat in 1881 met die slag van Laingsnek gesneuwel het.

Die naam is ontleen aan die feit dat die Boeremagte na die Slag van Amajuba op Rooibult gekampeer het om te rus, terwyl die offisiere die vredesdokument van die Eerste Vryheidsoorlog onderteken het.
Dorie het verwys na die Volk wat na die stryd rus en so het Volksrust sy naam gekry in 1889. In daardie jaar was daar sowat 150 blanke inwoners.

Inwoners met wie Forum Nuus gepraat het, meen die dorp moet sy naam behou ondanks die feit dat die swart bevolking reeds dekades lank na die dorp as Elangwane verwys.
Jannie Venter, ’n boer van die omgewing, sê al praat die swart bevolking reeds jare van Elangwane, moet daar ’n gesprek wees waar ooreengekom word dat al die name nie kan verander nie. Verskeie van die straatname in die dorp is reeds verander. “Daar moet iets van die verlede behou word.
“Dit is sinneloos om Volksrust se naam te verander, omdat die plattelandse dorpe nie geld daarvoor het nie.”

Johan Kenhardt (66), ’n sakeman wat besighede in Volksrust het, maar deesdae in Groblersdal woon, se oplossing vir die probleem is ’n dubbelnaam (Volksrust/Elangwane). “Die swart bevolking verwys sedert my kinderdae na Volksrust as Elangwane. Maar ek glo ons het ook ’n reg om iets in die land te hê.”
Hy meen egter om straatname te verander, is net ’n “politieke storie”. “Ons gaan mos nie straatname in die township verander nie…”

Johan Struwig, ’n boer en AfriForum-lid, het gesê die naamsverandering moet teengestaan word. “Die dorp het ’n ryk geskiedenis en hoekom moet die naam na meer as 120 jaar nou verander?”
Struwig meen “die dorp val uitmekaar en is permanent bankrot. Ons het nie eens meer behoorlike vuurvegters of ’n brandweerdiens nie. Daar is nie geld om paaie te herstel nie. Geld vir naamsverandering is net ’n vermorsing.”

Die petisie kan hier geteken word of ‘n sms kan gestuur word.