|

Strafregtelike klagte ingedien teen groep wat by Kruger wil myn

AfriForum se veldtog om die beoogde steenkoolmyn by die Nasionale Krugerwildtuin te keer, het vandag momentum gekry met ‘n strafregtelike klagte wat teen Singo Consulting (Edms.) Bpk. ingedien is.

Die klag, wat by die Komatipoort-polisiestasie ingedien is, hou verband met beweerde vergrype deur die maatskappy nadat dit aan die lig gekom het dat die maatskappy glo bedrog op grond van plagiaat gepleeg het. Dit het onder AfriForum se aandag gekom dat die maatskappy se verslag woord vir woord met omgewingsimpakstudies van ander omgewingskonsultante ooreenstem.

AfriForum het die omgewingsimpakstudie boonop ook eers ontvang nadat die organisasie se regspan ’n skrywe aan Singo Consulting en Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. gestuur het. Dít terwyl AfriForum ’n geregistreerde belangegroep is.

Die burgerregteorganisasie het ook vandag kommentaar op die omgewingsimpakstudie – wat onvolledig is – ingedien.

AfriForum se regspan gaan ook klagtes ingedien by die betrokke rade waar Singo Consulting geregistreer en geakkrediteer is, aangesien dié maatskappy oneties optree en strafregtelike oortredings gepleeg het.

Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum, sê dit het onder die organisasie se aandag gekom dat dié maatskappye na bewering bedrog gepleeg het. “Ek glo ’n indringende ondersoek sal nog meer ongerymdhede aan die lig bring. Ons is tot op hede nie werklik ingelig oor die gebeure nie en die prosesse wat gevolg word, is gebrekkig. AfriForum het om uitstel gevra om hul kommentaar in te dien, maar dié versoek het op dowe ore geval.”

Volgens de Klerk was daar ook verteenwoordigers van die Marlothpark Inwonersvereniging by die polisiestasie waar die klag ingedien is. Inwoners is diep beswaard oor die beoogde myn en bereid om die ontginning teen te staan. Kundiges van die omgewing is ook besig met navorsing wat die negatiewe impak van ontginning op die omgewing en gemeenskap sal uitwys.

Manzolwandle Investments wil die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 hektaar digby die Krugerwildtuin begin. Dit hou enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite in. Mpumalanga as toeristebestemming kan ook ekonomies in duie stort as daar met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word, meen De Klerk.

De Klerk het ook in ’n vorige verklaring gewys op ’n onlangse uitspraak van die appèlhof teen die departemente van omgewingsake en minerale hulpbronne se goedkeuring dat Atha-Africa Ventures (Edms.) Bpk. met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voortgaan. Die departemente het dié aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl die gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind dat die ministers nie deursigtig was nie en die besluit oorhaastig geneem het.

“Dit blyk dat daar al meer sulke vergrype in die land voorkom en AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynboubedrywighede die land verwoes nie,” sê De Klerk.

Jy kan ons help deur ons veldtog #BewaarOnsNatuur te ondersteun. Teken die petisie by

https://afriforum.co.za/weg-met-myn-by-krugerwildtuin/.

*Hooffoto: Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum en Cindy Benson, hoof van Marloth Park se belastingbetalersvereniging.

Soortgelyke plasings