|

Storting van mediese afval nasionaal groot probleem

Deur Mariska Batt

 Die onwettige storting van mediese afval hou ʼn reuse-gevaar vir die natuurlike omgewing én mense wat daaraan blootgestel word in.

Só sê Agnetha Poggenpoel van BCL Medical Waste in die Wes-Kaap, wat spesialiseer in die behandeling en vernietiging van mediese afval.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se woordvoerder vir omgewingsake, sê die onwettige storting van mediese afval, of dit gebruik óf geseël is, is ʼn nasionale probleem wat onderskat word.

Dié reaksie kom nadat daar onlangs ʼn groot aantal mediese afval by ʼn stortingsterrein in Lichtenburg gestort is.

AfriForum het vanjaar 56 stortingsterreine regoor Suid-Afrika geoudit om te bepaal of dit aan nasionale standaarde voldoen. Slegs 11% het die oudit geslaag en daar is op byna elke stortingsterrein in al nege provinsies mediese afval gevind.

“Die risiko bestaan dat mense op die manier medisyne wat verval het kan bekom en gebruik, of deur ʼn gebruikte naald geprik kan word, wat lewensgevaarlik kan wees. Vir dié rede mag dit nie geduld word nie,” sê Grobbelaar.

“Ingevolge wetgewing is dit munisipaliteite se verantwoordelikheid om toe te sien dat vullisterreine reg bestuur word. Sou mediese afval gevind word, moet dit onmiddellik na ʼn wettige mediese-afvalmaatskappy geneem word.”

Ondanks wetgewing op munisipale front, is daar ook streng wetgewing in plek wat die storting en vernietiging van mediese afval reguleer. Maatskappye wat spesialiseer in die behandeling en/of vernietiging van afval wat ʼn gesondheidsrisiko inhou moet eers ʼn omvattende omgewingsimpakstudie doen alvorens hulle ʼn lisensie by die departement van omgewingsake kan bekom.

Die afval-lisensie bepaal die wyse waarop individuele maatskappye mediese afval moet behandel, en of hulle byvoorbeeld ʼn verbrandingsfasiliteit mag hê. Wanneer ʼn maatskappy mediese afval mág verbrand, word die as in houers met metaaldeksels bewaar totdat dit by ʼn goedgekeurde stortingsterrein gestort word.

“Hoë gesondheidsrisiko-afvalbestuur word wetlik omskryf as “Wiegie tot Graf”, wat strek vanaf die generering van afval tot waar dit behandel en/of vernietig word.

Poggenpoel sê oortreders wat mediese afval onwettig stort kan ingevolge wetgewing tot R10 miljoen beboet word of tronkstraf van 10 jaar opgelê word.

“Die Grondwet bepaal dat elkeen die reg tot ʼn natuurlike omgewing het wat nie hul gesondheid en welstand bedreig nie. Die onus berus op die regering om bewustheid by die publiek te skep oor die storting van mediese afval en die korrekte behandeling daarvan.”

 

Soortgelyke plasings