#StopDieBus

AfriForum loods #stopdiebus-veldtog teen aanry van mense na presidensiële inhuldiging op munisipale onkoste

Vanjaar se presidensiële inhuldiging gaan nie slegs die grootste en duurste in Suid-Afrikaanse geskiedenis wees nie, die presidensie het boonop aangekondig dat munisipaliteite vanuit elk van die nege provinsies op eie onkoste 2 000 mense (altesaam 18 000  mense) na die Loftus Versfeld-stadion moet aanry. In die lig hiervan het AfriForum besluit om die #stopdiebus-veldtog hierteen te loods.

Die totale skuld van munisipaliteite in Suid-Afrika het volgens die tesourie teen Desember 2017 R138,2 miljard beloop en volgens die 2019 begrotingsoorsig het 113 van die 278 munisipaliteite vanjaar onbefondse begrotings, wat beteken dat hulle nie genoeg geld het om hul uitgawes vir 2019 te dek nie.

Die begrotingsoorsig bepaal verder dat elke munisipaliteit verantwoordelik is vir die prioritisering van hul hulpbronne en die vermindering van verkwistende besteding. AfriForum het daarom besluit om die invul van protesbriewe teen die verdere vermorsing van munisipale fondse dwarsoor die land aan te moedig wat by die onderskeie munisipaliteite ingedien sal word. Die burgerregte-organisasie gaan ook ’n protesbrief aan die presidensie in hierdie verband stuur.

Inwoners word aangemoedig om hierdie petisie te teken om te verhoed dat munisipaliteite nóg verder in die skuld gedompel word:

Brief aangaande die beplande presidensiële inhuldiging van 25 Mei 2019. 

Soortgelyke plasings