#StopDieBus-veldtog: AfriForum oorhandig protesbriewe in Pretoria teen aanry van mense na presidensiële inhuldiging


AfriForum het vandag talle protesbriewe van inwoners regoor die land teen die president se versoek – dat munisipaliteite landwyd 18 000 mense na die presidensiële inhuldiging in Pretoria op 25 Mei 2019 moet aanry – by die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Pretoria ingedien. Die burgerregte-organisasie het ook ’n protesbrief aan die presidensie gestuur rakende hierdie kwessie.

Munisipaliteite sukkel reeds om die mas op te kom en kan nie eens basiese dienste aan inwoners verskaf nie weens ’n gebrek aan fondse. Belastingbetalers gaan gebuk onder ongereelde of geen watertoevoer, vullis wat nie verwyder word nie en rou riool wat in die strate afloop omdat munisipaliteite versuim om hul grondwetlike plig na te kom.

“Ten spyte van munisipaliteite se grondwetlike plig om basiese dienste aan inwoners te voorsien, is daar ’n gebrek aan dienslewering in sommige plaaslike dorpe en selfs in stede. Suid-Afrika se huidige ekonomiese toestand regverdig boonop nie die enorme koste wat aan hierdie presidensiële inhuldiging verbonde is nie en die ekonomie kan baat by munisipaliteite wat hulself van onnodige uitgawes weerhou. In die lig hiervan voel AfriForum die presidensie se versoek is ongegrond – daarom sê ons ‘stop die bus’ met die verkwisting van munisipale fondse,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se koördineerder vir Groter Pretoria.

Graag versoek ons dat indien jy of iemand waarvan jy weet ’n negatiewe ervaring by enige stemlokaal gehad het, julle dit asseblief met ons sal deel:
https://afriforum.co.za/jou-en-afriforum-se-gesamentlike-ovk-verslag/

Soortgelyke plasings