#StopDieBus-veldtog: AfriForum oorhandig protesbriewe in Kimberley teen aanry van mense na presidensiële inhuldiging


AfriForum het vandag talle protesbriewe van inwoners van die Noord-Kaap teen die president se versoek – dat munisipaliteite van dié provinsie 2 000 mense na die presidensiële inhuldiging in Pretoria op 25 Mei 2019 moet aanry – by die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Kimberley ingedien. Die burgerregte-organisasie het ook ’n protesbrief aan die presidensie gestuur rakende hierdie kwessie.

Munisipaliteite sukkel reeds om die mas op te kom en kan nie eens basiese dienste aan inwoners verskaf nie weens ’n gebrek aan fondse. Belastingbetalers gaan gebuk onder ongereelde of geen watertoevoer, vullis wat nie verwyder word nie en rou riool wat in die strate afloop omdat munisipaliteite versuim om hul grondwetlike plig na te kom.

“As jy die huidige ekonomiese toestand van Suid-Afrika in ag neem, is die kostes verbonde aan hierdie presidensiële inhuldiging ongegrond. Dit is onregverdig en onverantwoordelik van die presidensie om boonop hierdie juk op munisipaliteite te plaas. Dit is tyd vir burgers om op te staan teen hierdie vermorsing van geld en dít is presies wat hierdie veldtog verteenwoordig. Daarom sê ons ‘stop die bus’ met die verkwisting van munisipale fondse,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Graag versoek ons dat indien jy of iemand waarvan jy weet ’n negatiewe ervaring by enige stemlokaal gehad het, julle dit asseblief met ons sal deel: https://afriforum.co.za/jou-en-afriforum-se-gesamentlike-ovk-verslag/

Soortgelyke plasings