--> -->
Spyskaart +

Stop Malema se blaf voor hy kan byt

Mei 2, 2018 deur Flip Buys

Julius Malema is ’n spieëlbeeld van die politieke kultuur en aggressiewe ideologie wat die ANC oor die jare geskep het om die land oor te neem. Hy is onbeheerbaar, onverantwoordelik, radikaal, in opstand teen enige gesag, intimideer teenstanders en bedryf populistiese politiek sonder om die minste verantwoordelikheid vir die gevolge van sy opswepery te neem. In kort, ’n ideale Struggle-aktivis. Hy is die produk van die ANC se post‑1994-besluit om ’n rewolusionêre beweging te bly en hulself nie in ’n gewone, demokratiese party om te skakel nie. Dis waarom ons land nou so lyk. ’n Strugglekultuur kan ’n land oorneem, maar nie regeer nie.

Malema se strategie is baie eenvoudig: Hy buit die massas armes en jeugdige werkloses se bestaansangs uit om sy eie eenpuntplan te bevorder – mag en geld, oftewel Julius se politieke loopbaan en finansiële welvaart. Normaalweg sou niemand sy politieke bog ernstig opneem nie, maar met die ANC se leierlose leiers lyk dit soms of hy die land begin regeer. Pres. Ramaphosa se verkiesing het die hoop geskep dat die leierskapsvakuum sal verdwyn wat oudpres. Zuma vir Malema geskep het. Maar nadat die EFF se mosie oor onteiening in gewysigde vorm deur die ANC in die parlement aanvaar is en verskeie ANC-leiers geskimp het dat Malema na die ANC moet “terugkom”, begin dit lyk of Klaas baas is. Malema het klaarblyklik nie verniet gesê dat die EFF die ANC deur hulle idees regeer nie!

Radikale uitsprake

Maar dis nog nie genoeg nie. Malema is ’n meester van die openbare politieke spel – en hy speel dit met ’n eenvoudige resep: Hy gebruik sy politieke platform om die openbare debat met herhalende, radikale eenlynuitsprake te oorheers. Só het hy dié verteenwoordiger van die politieke uiterste word. Hy kry dit reg omdat hy hom nie aan enige reël of grens laat bind nie. Al maak hy netsoveel vyande binne die ANC-alliansie as daarbuite, kry sy teenstanders dit net nie reg om dieselfde hoë openbare profiel te handhaaf nie, omdat hulle nie bereid is om die reëls te breek nie. Gehoorsaamheid aan die spelreëls is vir hulle belangriker as die uitslag, terwyl die uitslag vir hom al is wat tel. Die media is hier ’n groot sondebok, omdat elke hoesie en kuggie van Malema as voorbladnuus opgedis word.

Derde weg

In hierdie nuwe politiek werk stille diplomasie nie; inteendeel, volstruispolitiek werk in Malema se guns omdat hy dan die enigste speler op die openbare veld is. Om saam met Malema in die modder te stoei, bied ook geen oplossing nie. Maar daar is ’n derde weg, en dit is om die oplaaiende woede onder Afrikaners oor Malema se straflose wandade en opswepery na wettige kanale te voer, soos met enige ander wettelose persoon gebeur. Dit word nou deur AfriForum se Privaatvervolgingseenheid gedoen, wat druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om ná jare van stilsit hulle werk te doen. Die waarheid oor korrupsiebewerings teen hom moet in ’n ope hof uitkom dat die publiek die feite kan hoor.

Pay back!

Die ANC is vir ’n lang tyd in die parlement én voor die oë van die hele wêreld verneder deur Malema se luidrugtige “Pay back the money!”. Doemprofete wat AfriForum van “rassepolarisasie” beskuldig omdat die soveelste staatsinstelling gedwing moet word om sy werk te doen, hou nie daarmee rekening dat die groot meerderheid swart mense in die land ook keelvol vir die korrupte selfverryking van politici is nie. Hierdie stap kan juis help om rasseverhoudinge te bevorder as die gematigde meerderheid sien dat AfriForum help om reg en geregtigheid te laat geskied. Malema geniet nie meerderheidsteun nie – hy bly leier van ’n klein splintergroep. Die tyd sal leer of dit nou die ANC se beurt is om vir hom te skreeu: “Pay back te money!”

As die ANC nie by die 2019-stembus verneder wil word nie, moet hulle ophou om Malema met radikale uitsprake te probeer oortref en eerder verstandig begin regeer. Indien niemand iets doen nie, kan Malema se irriterende blaf ’n byt word.