Spyskaart +

Sterkte, Cyril, maar ek verkies steeds selfstandigheid

Februarie 26, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Dit is eerlikwaar verfrissend om ’n president te hê wat weer versoening verkondig en darem talle sinvolle voorstelle (of altans geluide) oor die ekonomie maak. Die markte – daardie onsigbare kragte wat skynbaar vir Jacob Zuma allergies was – en die rand hou skynbaar baie van hom. Dis ’n goeie ding en dit maak dat enige regdenkende mens ten minste meer hoop met hom as met Zuma het. 

Die land se sentiment en gemoed is definitief in die algemeen beter vandat Zuma met Ramaphosa vervang is. Die graderingsagentskappe is ook positief oor hom en verdere kredietafgraderings lyk nou al hoe meer onwaarskynlik. Moody’s is ingenome met sy rol in die mynsektor.

Hy het beslis werk daarvan gemaak om iets aan korrupsie, of ten minste die nuusopskrifte óór korrupsie, te doen. Die Guptas en Duduzane Zuma het op die vlug geslaan en word vervolg. Die korrupte spul by Eskom is met tegnokrate vervang. Dit is verblydend en die era voor en ná Zuma toon net hoe polities gedienstig ons wetstoepassingsinstellings werklik is en dat geregtigheid nie altyd is waarvolgens hulle hul dade rig nie.

Hy het ook mooi en baie altruïsties sy staatsrede gelewer – kompleet met verwysings na oudpres. Nelson Mandela en die droom van ’n demokratiese en regverdige Suid-Afrika. Hy het ook vroeg reeds melding van gelykheid voor die reg en ’n beter lewe vir almal gemaak. Hy het ruim erkenning aan ons diversiteit gegee, terwyl hy tewens gevra het dat ons almal moet saamstaan teen korrupsie.

“There is a greater sense of optimism among our people. Our people are hopeful about the future,” het hy gesê. Hy het ook erken daar is groot probleme, baie werk en moeilike besluite wat voorlê.

Ondanks al die belowende uitlatings wat gemaak is, is daar beslis ’n paar goed wat pla. Hy het byvoorbeeld belowe om vanjaar nog, ingevolge die Vryheidsmanifes (Freedom Charter), onteiening sonder vergoeding ’n realiteit te maak. ’n Minimumloon sal ook in werking gestel word. Die Nasionale Gesondheidsverskeringsprogram (NGV) en gratis tersiêre onderrig – twee uiters onnodige projekte wat nie ’n groot verskil aan die teikenbegunstigdes gaan maak nie en die land se finansies groot skade kan berokken – gaan ook voort. Radikale ekonomiese transformasie en swart ekonomiese bemagtiging het voorrang gekry.

Die feit is: Zuma het omtrent dieselfde toesprake oor die laaste nege jaar gelewer. Sekere frases en woorde verskil dalk, maar dit is in wese eenderse verklarings en beloftes. Ramaphosa het nie afgesien van die uiters skadelike beleide wat Zuma en die ANC verkondig nie (al wil hy die korrupsie wat daarmee gepaardgaan, uitroei). Hy sien ook steeds die staat as die primêre tuig om die land vorentoe te neem, terwyl dit nou al male sonder tal bewys is dat dit nie daardie rol kán speel nie. Die sakesektor was bloot ’n nagedagte in hierdie staatsrede.

Ek is daarom baie bly dat hy korrupsie wil aanspreek en die wil staat regruk, maar dit is ’n klein deel van die oplossing vir die land en vir minderhede. Vir my as Afrikaner was daar min behalwe ’n bietjie Afrikaans in sy staatsrede om my bly te maak en gerus te stel. Ek sien baie van dieselfde ou sosialistiese en mislukte beleide en retoriek wat ons tot hierdie punt gebring het – net in effens meer vleiende en gerusstellende taal. Ek sien ongelooflik baie teenstrydighede, soos om grond sonder vergoeding te vat en daarmee kwansuis werk te skep en voedselsekerheid te verbeter. Ek is jammer, maar die praktyk wys jy kan nie albei kry nie.

Ramaphosa is ’n gawe man, maar uiteindelik bly hy ’n afgevaardigde van die ANC. Dit is waar sy prioriteite altyd sal lê. As mens vinnig die voorneme wat laasjaar by hul Desember-konferensie geneem is, asook hul 8 Januarie-verklaring vanjaar gade slaan, is dit duidelik dat hulle nie ernstig is oor werklike verandering nie. Hul doelwitte is soms edel, maar hul beleide gaan dit bloot nie bereik nie. Die laaste 24 jaar is ’n klinkklare bewys daarvan. Afrikaners en Afrikaans is geensins vir hulle ’n prioriteit nie… Inteendeel.

Ramaphosa het ’n reusetaak voor hom en daarmee moet hy sterkte toegewens word, maar sy doelwitte is baie keer nie ons doelwitte nie en op talle gebiede gaan dit lynreg met mekaar bots. Dit is ’n hartseer, dog onomstootlike feit. Die staat het ook nie die vermoë of die wil om vir ons ’n toekoms te skep waar ons vry, veilig en voorspoedig kan wees nie. Daarvoor sal Afrikaners en hul instellings hul gemeenskapskrag moet monster. As ek enersyds tussen Ramaphosa en leë staatsbeloftes, en gemeenskapselfstandigheid andersyds moet kies, het ervaring en logika my geleer dat laasgenoemde die enigste keuse is.