|

Stem vir US-raadslede en behou Afrikaans as onderrigtaal

 

Deur:  Jhua-Nine Wyrley-Birch

Na afloop van die onlangse gebeure by die Universiteit van Stellenbosch, wil die burgerregte-organisasie AfriForum alle Maties-alumni aanmoedig om te stem vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal in die komende raadsverskiesing.

AfriForum, as deel van die Solidariteit Beweging, dring daarop aan dat die regte kandidate tot die US-raad verkies word, in die lig van  die invloed van radikale studentegroepe op die universiteitsbestuur, die ondeurdagte skorsing van twee pers geverfde studente asook die universiteit se gebrek om sy eie taalbeleid toe te pas.

AfriForum steun prof. André Coetzee, mnr. Heinrich Gonzales en adv. Jan Heunis as kandidate in die komende verkiesing.

Díe kandidate word deur die Afrikaanse Alumni-vereniging by oud-Maties aanbeveel.

Meer oor dié kandidate:

Prof. André Coetzee was professor en uitvoerende hoof van anestesie en kritiese sorg aan die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe vir 34 jaar. Hy het einde 2015 afgetree.

“My visie vir die US is ’n nie-rassige universiteit waar akademiese meriete die prioriteit is en Afrikaans as gelyke akademiese en bestuurstaal behou word in ’n meertalige omgewing.”

Hy het benewens nasionale en internasionale professionele kwalifikasies, ook 4 doktorsgrade aan US verwerf. Hy is ’n narkotiseur en het sy eie praktyk.

 

Heinrich Gonzales het in 2011 sy LLB-graad aan die US verwerf en word in 2014 as prokureur in die Noord-Kaapse hooggeregshof toegelaat. Hy is tans in diens van AfriForum in Pretoria en die provinsiale koördineerder vir Mpumalanga en Limpopo.

“Dit is my visie om ‘n spreekbuis vir Maties-alumni te word ter bevordering van Afrikaans as onderrigtaal. Dit gaan nie net oor wat ons hier en nou bereik nie, maar ook wat ons vir toekomstige Afrikaanse geslagte nalaat.

“Daar moet weer ‘n kultuur op kampus gevestig word wat verseker dat daar wedersydse respek tussen studente van alle taalgroepe is, ongeag ras, geslag of ouderdom.”

Volgens Gonzales moet die raad verseker dat alle studente se grondwetlike regte beskerm word – ook hul regte ten opsigte van onderrigtaal.

 

Adv. Jan Heunis (SC) is ’n senior advokaat, outeur, vise-president van die US konvokasie, voormalige US-raadslid, dosent, regsadviseur vir die staat, waarnemende regter, lid van die spesiale verkiesingshof en adviseur vir die Grondwetgewende Vergadering.

“Ek wil in ooreenstemming met die Grondwet verseker dat Afrikaans ’n primêre taal van onderrig by die US bly.”

Die verkiesing sluit om 12:00 op 10 Maart 2016.

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings