--> -->
Spyskaart +

Stem is geen plaasvervanger vir doen

November 30, 2018 deur Admin

Deur: Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Ek het onlangs ’n beraad oor minderhede in Pretoria bygewoon.

’n Europese kenner van minderheidsaangeleenthede het ons toegespreek en baie onderhoudend oor veral Europa se minderhede gepraat. Wat my egter opgeval (en gepla) het, is dat al haar politieke uitweë en beskermingsmeganismes staatsbetrokkenheid behels en by uitstek Europa as verwysingsraamwerk gebruik. Dit is helaas nie toepaslik vir Afrika en ander Derdewêrelddele nie.

Wat gebeur indien die staat en sy instellings minderhede – en trouens eintlik die totale bevolking – in die steek laat ten opsigte van die beskerming van regte? Wat as minderhede oor geen gewaarborgde verteenwoordiging in politieke instellings beskik nie? In haar wêreld is ’n goed funksionerende en goedgesinde staat ’n gegewe en dit is bykans ondenkbaar dat die staat nie sy beloofde rol ten opsigte van minderhede se politieke deelname en ook algehele dienslewering sal vervul nie.

In die meeste volwasse demokrasieë tel verkiesings darem nog vir iets – al is dit net om ’n swak presterende en ongewilde president uit te skop. Die politieke partye is sensitief vir swak prestasie en hang breedweg dieselfde stel (positiewe) waardes aan. Maar selfs daar is mense besig om te besef dat ’n verkiesing nie meer is wat dit was nie en dat hul probleme nie aan ’n klomp twissieke politici oorgelaat kan word nie.

In ’n eenparty-oorheersde (en falende) staat met ’n komplekse verlede – soos Suid-Afrika – waar die voormalige heersers nou ’n gewone minderheid geword het, en dit deur ’n voormalige bevrydingsbeweging regeer word, is dit egter ’n ander storie.

Volgende jaar se verkiesing word allerweë as ’n belangrike een beskou. Die ANC se steun daal al vir ’n ruk en die party het veral oor die afgelope tien jaar ’n baie swak regeringsrekord. Ofskoon die DA in 2016 heelwat vordering gemaak het en nou Suid-Afrika se belangrikste stede beheer, toon meningspeilings dat die DA se steun in 2019 nie veel gaan groei nie en selfs kan daal vergeleke met 2016 en 2014 se verkiesings. Terselfdertyd toon hierdie peilings dat die EFF vordering maak deur stemme by die ANC weg te neem en die ANC se steun daarom verder gaan daal vergeleke met vorige verkiesings. Die kleiner nispartye se steun bly weglaatbaar klein.

Uit die groot partye gaan die ANC en EFF min steun van minderhede af kry en hulle bied ook niks aan minderhede nie. Dit is dié twee partye wat die meeste van die swart steun gaan inpalm. Die DA kry die meeste van sy steun van minderhede af, maar die party hamer op ’n gemeenskaplike en amorfe Suid-Afrikanerskap terwyl Mmusi Maimane, sy leier, kwetsende aanmerkings oor wit mense maak. Iewers rym iets nie behoorlik in die grootste opposisieparty nie.

Twee van die drie grootste partye – wat saam nagenoeg 70% van die steun in 2019 kan ontvang – is openlik vyandig jeens die Afrikaner en wit mense. Die DA as die derde een is nie heeltemal vyandig nie, maar kan nie alleen of saam met kleiner partye hoop om lewensvatbare koalisies te vorm nie. Tewens beweeg hulle beleidsgewys geleidelik weg van minderheidsbelange om hopelik die swart steun in te palm. Die DA het tans slegs ’n hoop om die Wes-Kaap te bly beheer. In Gauteng kan die ANC alleen of met die EFF en kleiner partye se hulp maklik aanhou regeer.

Die nasionale diskoers in die land is onvriendelik jeens veral die Afrikaner en is geensins op minderheidsbelange ingestel nie. Politieke partye se retoriek en ingestelheid, asook die samestelling van instellings soos die provinsiale wetgewers en parlement, weerspieël dit. Wit mense en Afrikaners se getalle en verspreiding, vergeleke met die nasionale demografie, is van so ’n aard dat hul stemme slegs op sekere plekke ’n impak maak. Om te stem is jou reg en dit moet ook gedoen word, maar dit kan nie ons enigste of selfs primêre oplossing wees nie.

Wat is dan minderhede soos die Afrikaner se oplossing indien stem duidelik nie ’n realistiese opsie is nie en die grootste partye in die land ten beste afsydig jeens ons is? Hoe verseker ons dat ons belange voortdurend aandag kry en bevorder word sonder om net ons geloof in ’n gebeurtenis soos ’n verkiesing, wat net elke paar jaar plaasvind, te plaas? Die antwoord is om ons sake self te bestuur waar ons kan en moet. Dus, waar ons gekonsentreer is, moet daar eenheid van poging wees om druk toe te pas en sover moontlik selfdoenoplossings na te streef.

AfriForum staan aan die spits hiervan. Tans is daar 130 buurtwagte landwyd wat deur ons lede se geldelike en ander bydraes moontlik gemaak word. Hulle hou ons veilig. Daarnaas is ons taklede en personeel aktief daarby betrokke om byvoorbeeld slaggate te vul en straatligte reg te maak, bome te plant, strate skoon te maak, munisipale amptenare aan die man te bring en korrupsie hok te slaan. Hulle hou ons gesond en keer die verval wat plaasvind. Verder bied ons suksesvol slag teen goed soos onteiening sonder vergoeding en Nasionale Gesondheidsversekering en skakel met rolspelers in die buiteland om sodoende druk toe te pas. Ons beveg klein boelies in skole deur ons bewusmakingsprogramme en ook groot politieke boelies.

Ons hef nie belasting soos die staat nie en het nie groot korporatiewe borge nie. Dis ons lede se geldelike bydraes en vrywillige moeite, sowel as die roepingsgedrewe personeel, wat AfriForum doeltreffend maak.

By die bogenoemde beraad wat ek bygewoon het, het twee kenners prontuit genoem dat dit wat AfriForum en die breër Solidariteit Beweging doen nêrens anders in die wêreld bestaan nie. Ons het dus nie ’n handboek vir wat ons doen nie en ons is nie volmaak nie, maar ons doen ons bes om Afrikaners vry, veilig en voorspoedig te maak en bevorder onbeskaamd Afrikaners en ander minderhede se belange terwyl ons wedersydse erkenning en respek teenoor alle mense nastreef.

Hoewel ons reusesuksesse het om daarvoor te wys, het ons jou hulp ook nodig. Kom sluit aan en raak betrokke, want saam is ons sterker!