Spyskaart +

Statistieke oor plaasaanvalle en -moorde gedurende 2014 bekendgemaak

Januarie 15, 2015 deur Mariska Batt

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die landbou-unie TLU SA het die statistieke vir plaasaanvalle en plaasmoorde wat gedurende 2014 plaasgevind het vandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie in Centurion bekendgemaak.

’n Totaal van 277 plaasaanvalle het in 2014 plaasgevind, waarvan die besonderhede deur AfriForum en TLU bevestig kon word. In dieselfde jaar kon 67 plaasmoorde bevestig word. Volgens hierdie syfers was daar sedert 1990 nog nooit ’n jaar waartydens 277 plaasaanvalle bevestig kon word nie. Dit blyk ook dat daar sedert 2011 ’n stelselmatige styging in die jaarlikse aantal plaasmoorde was.

Die organisasies het ook bekendgemaak dat daar sedert die begin van 2015 reeds nege plaasmoorde gepleeg is.

Sowel AfriForum as TLU SA het hul kommer uitgespreek oor die feit dat pres. Jacob Zuma die afgelope naweek ’n beroep op boere gedoen het om meer te doen om hul werkers se lewensomstandighede te verbeter, terwyl hy nie bereid was om hom oor die duisende boere wat al vermoor is uit te spreek nie.

Die twee organisasies het ook bekendgemaak dat hulle in die nabye toekoms ’n skrywe aan die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, sal rig om vir ’n gesprek met die ANC-leierskap te vra.

Sien memorandum hier