Standerton AfriForum vat hande met hul plaaslike polisie


Die AfriForum-tak in Standerton het hul samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD in Centurion gesluit is op 3 Februarie 2017 aan kol. Fanie Motubane, bevelvoerder van die Standerton-polisiestasie, te oorhandig. Daarna het die partye ook ooreengekom om in ’n opvolgvergadering die verskeie probleme in die dorp te bespreek.

“Ons is baie opgewonde oor dié ooreenkoms, wat ten doel het om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Huisinbrake is veral ’n groot probleem in ons gemeenskap en ons moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak in die bekamping van misdaad. Ongeag die organisasie waaraan jy behoort, veg ons almal teen een vyand: misdaad. Deur saam te staan, kan ons Standerton ’n beter plek maak,” sê Leon Enslin, voorsitter van die AfriForum-tak in Standerton.
Bronwen Pretorius, voorsitter van Standerton se AfriForum-buurtwag, beaam dit: “Hierdie ooreenkoms stel die AfriForum-buurtwag in staat om nóg meer te doen om misdaad te bekamp. Samewerking is die sleutel tot sukses.”

Soortgelyke plasings