--> -->
Spyskaart +

Staatsverval noodsaak krisisberaad – Solidariteit Beweging

Mei 5, 2015 deur Alet Rademeyer

Die toenemende agteruitgang en verval in die land, meerderheidsoorheersing deur die ANC-regering wat die gevaar van tweedeklasburgerskap vir Afrikaners inhou, is die hoofredes waarom die Solidariteit Beweging vandag ’n krisisberaad in Pretoria hou om ’n plan vir die toekoms uit te werk.
Sowat 1 500 mense woon die beraad by die Voortrekkermonument by.

Flip Buys, voorsitter van die Beweging, het gesê die land en Afrikaners se probleme kan nie oornag opgelos word nie, maar die bal moet aan die rol gesit word.
Die Beweging het die afgelope paar jaar drasties gegroei en het ’n ledetal van sowat 300 000, wat as hul gesinne ingesluit word, byna ’n miljoen mense verteenwoordig.
Buys het sewe staatskrisse geïdentifiseer wat vereis dat indringend na oplossings vir die toekoms gesoek moet word. Die krisisse is op ideologiese, politiese, regerings-, grondwetlike, ekonomiese, bedelings- en kulturele vlak. Daarbenewens is daar ook die misdaad-, infrastruktuur, water-, omgewings, arbeids- en maatskaplike krisis.
Hy het ook verwys na die toenemende onregverdige stelsel in die land waar die ANC teen Afrikaners regeer en waar daar al hoe minder te sien en te beleef is van die grondwetlike ruimtes wat vir taal- en kultuurgemeenskappe se regte bestaan. “Daar het ’n groeiende kloof tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk ontstaan. Die krisisse in die land is alles tekens dat die 1994-ooreenkoms besig is om uit te rafel.
“Veeltaligheid het eentaligheid geword, gelykheid en regstelling het verteenwoordigendheid geword, skole en universiteite is teikens van transformasie, die instellings wat oor grondwetlike regte moet waak, is tandeloos en die meerderheid se individuele regte weeg nou swaarder as die minderheid s’n.”
Volgens Buys maak die Suid-Afrikaanse bestel se individuele sentralisme dit te simplisties om die kompleksiteite van ’n heterogene samelewing te reguleer. Minderheidsoorheersing is bloot deur meerderheidsoorheersing vervang en daarom word demokrasie in ’n multi-etniese land nie as vryheid beleef nie.
Buys meen egter dit is nie genoeg of volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie. Daar moet ook aan vooruitgang gebou word wat daarop neerkom dat die Afrikaner, soos in die verlede, ’n waagstuk sal moet aanpak as hy vry, voorspoedig en veilig in die land wil voortbestaan.
“Die voorwaarde vir enige plan is dat soveel moontlik Afrikaners (dalk 80%) dit sal moet steun. Planne vir ‘volkseenheid’ werk nie omdat dit veronderstel almal moet by een plan inval. ’n Nuwe raamwerkvoorstel moet eerder ‘volksveelheid’ as uitgangspunt hê wat beteken nie almal hoef oor alles saam te stem nie.”
Buys het dit verduidelik aan die hand van drie groepe waarin Afrikaners nog altyd ingedeel is, naamlik die wat individuele regte voorstaan, die wat ten gunste van groeps- of minderheidsregte is en die wat selfbeskikking of federalisme ondersteun.
“Daar is groot verskille tussen Afrikaners oor die haalbaarheid van elk van die sienings. ’n Strategiese plan, wat nie net vir ’n faksie onder die Afrikaners nie, maar vir die hele gemeenskap voorsiening maak, is dus nodig. Daarom moet die waagstuk eerder op volksveelheid as volkseenheid gebou word.
“Ons is te min en te versprei dat een groep se oplossings op ’n ander afgedwing of gedeurstroomroller kan word.”
Buys het gesê staatsafhanklikheid of onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie. Daarom behels die voorstel ook Afrikanerselfstandigheid as middeweg. “Solidariteit se plan is in wese federalisties. Ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe. Dit word wêreldwyd gesien as die beste teenvoeter vir regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers.”
Buys het egter beklemtoon dat oplossings nie uit die lug val nie en dat die voorstel of plan vir selfstandigheid die toets van behoorlike navorsing, ondersoek, beraadslaging en bespreking moet deurstaan.
Die strategie is dat gebruik gemaak moet word van huidige beskikbare individuele en groepsregte, terwyl die lewensvatbaarheid van groeiende selfstandigheid op gebiedsbasis (oftewel selfbeskikking) behoorlik ondersoek en op meriete beoordeel moet word. “Daar sal egter nie sprake wees van modelle wat na apartheid hunker nie.”
Die verwagting is om op 10 Oktober ’n opvolgberaad te hou om verder oor oplossings te besin.