Staatsrede: Ramaphosa wil utopie skep met ’n onrealistiese aksieplan


President Cyril Ramaphosa se staatsrede is ’n sprekende voorbeeld van ANC-ideologie wat met die werklikheid gekonfronteer word en die ANC kies dan om eerder aan sy ideologie te kleef. Die president besef die land is in ’n krisis en hy onderneem om ’n utopie te skep, maar hy beoog om dit met ’n aksieplan te bereik wat nie net onrealisties is nie, maar wat ook waarskynlik destruktief sal wees. Dít is die kommer wat die burgerregte-organisasie AfriForum na afloop van vanaand se staatsrede uitgespreek het.

“Die krisisse wat die president uitgewys het, is almal as gevolg van die regerende ANC se politieke ideologie geskep. Die voorgestelde oplossings is telkens om dieselfde ideologie wat hierdie krisisse geskep het, met meer geesdrif aan te kleef,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.
“Die president se utopiese beloftes oor “slimstede” met wolkekrabbers, sneltreine, goedkoop data, dat niemand in die land honger sal ly nie, dat die ekonomie vinniger sal groei as die bevolking, dat gehalte-onderwys aansienlik sal verbeter en dat geweldmisdaad sal halveer of moontlik selfs geheel en al sal verdwyn, word nie met realistiese aksieplanne begroet nie,” sê Roets.

In sy toespraak het hy gesê die staat is die oplossing en dat die staat ’n meer entrepreneuriese rol moet speel en “meesterplanne” moet uitvoer om die ekonomie te bou. Voorgestelde oplossings vir verskeie krisisse is telkens dat die staat meer betrokke moet raak, wat meebring dat die staat meer geld moet bestee.
AfriForum is van mening dat die oplossing eerder daarin gesetel is om aan die samelewing groter vryheid te gee om hul lewens volgens hulle keuse in te rig, hul besigheid sonder staatsinmenging te doen, mense aan te stel en die ekonomie te laat groei.
In sy toespraak het Ramaphosa op enkele van die groot uitdagings wat Suid-Afrika tans in die gesig staar verwys, en sterk standpunt ingeneem dat dit nou tyd is om oor te gaan tot aksie.

“Die president se plan van aksie is deurgaans om die staat as die oplossing vir mense se probleme voor te hou, wat uiteindelik daartoe sal lei om mense slegs meer afhanklik van die staat te maak, wat op sy beurt daartoe sal lei dat die probleme waarskynlik meer sal verdiep,” aldus Roets.

Soortgelyke plasings