Staatsrede 2020: Ramaphosa hou by verloorresep

AfriForum het ná afloop van vanaand se staatsrede gesê dit blyk dat pres. Cyril Ramaphosa vasberade is om vas te klou aan die ANC se verloorresep om die land oor die afgrond van sosialisme en armoede te regeer. Dít is duidelik deur sy beklemtoning van beleide soos onteiening sonder vergoeding, nasionale gesondheidsversekering (NGV), swart ekonomiese bemagtiging en verhoogde staatsinmenging.

“Indien Ramaphosa konkrete planne ter tafel gelê het oor hoe om onder meer ekonomiese groei (wat tans 0% is) aan te wakker, internasionale beleggers gerus te stel en werkloosheid die hoof te bied, sou ’n mens hierdie staatsrede ernstig kon opneem. Ramaphosa se staatsrede is egter soos om gif vir ’n siek pasiënt te gee en te sê dat dit hom/haar gesond sal maak,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

Die president het veral klem gelê op die ANC se verbintenis tot onteiening sonder vergoeding. “Dit bly egter vir AfriForum ’n raaisel waarom die regering aan ’n universeel-mislukte beleid bly vasklou,” sê Roets.

Die staatsrede wys weer eens dat die regering die probleem is, maar dat die oplossing in die burgerlike samelewing gesetel is. “Daarom moedig AfriForum gemeenskappe aan om al hoe meer selfstandig en onafhanklik van die staat te word. In ons strewe hierna, stig ons landwyd buurtwagte en takke; het ons ’n privaatvervolgingseenheid; beveg ons sosialistiese beleide soos NGV en onteiening sonder vergoeding; en pak ons korrupsie- en haatspraaksake in die howe,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings