| | |

Staat van inperking: Misdaad neem toe; buurt- en plaaswagte veral nóú krities

Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat buurt- en plaaswagte nou meer as ooit toegelaat moet word om gemeenskappe te help beveilig.

Dít volg ná Bheki Cele, Minister van Polisie, se aankondiging dat misdrywe soos kapings en geweld toegeneem het.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid, sê geweldmisdaad begin veral toeneem soos beweging regoor die land meer vrylik plaasvind. “Baie van die misdrywe wat die afgelope twee weke weer begin toeneem het teenoor die begin van die inperking – soos kapings, huisbrake, betreding, diefstal en roof – kan met behulp van gemeenskapsveiligheidinisiatiewe soos buurtwagte bekamp word.”

“In landelike gebiede is oesdiefstal besig om die hoogte in te skiet – iets wat deur plaaswagte stopgesit kan word,” voeg Cameron by.

Cele het voorts aangedui dat daar vergeleke met 2019 se misdaadstatistiek ’n algehele afname in misdaad was – ’n stelling wat AfriForum as ’n onregverdige vergelyking beskou.

“Dit is logies dat wanneer daar minder beweging is, misdaad, en ook die aanmelding daarvan, tot ’n sekere mate sal afneem. Dit is egter nie ’n akkurate weerspieëling van die huidige situasie nie en beteken nie dat misdaad nie steeds ’n ernstige, voortslepende en toenemende bedreiging is nie.

“Die regering het eenvoudig nie die kapasiteit om misdaad alleen te bekamp nie en gemeenskapstrukture is belangrik in die geveg teen geweld en misdaad in Suid-Afrika. Waar die polisie nou hoofsaaklik ’n reaktiewe rol speel, speel buurt- en plaaswagte ’n groot proaktiewe rol,” sê Cameron.

AfriForum neem ook kennis van sprake dat die regering die verbod op drank en sigarette moontlik tot op vlak 1 wil verleng en is van mening dat dit tot ’n drastiese toename in onwettige handel, asook misdaad sal lei.

Soortgelyke plasings