--> -->
Spyskaart +

Staat moet pa staan vir Eskom-krisis, nié ons as verbruikers

Desember 3, 2018 deur Anita Erasmus

Deur: Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Ongeag wat al by Eskom gebeur het, kan daar tog ’n mate van simpatie vir die kragreus gekoester word. Daar is onlangs berig dat Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering, in antwoord op ’n parlementêre vraag onthul het dat munisipaliteite Eskom nou R17 miljard skuld. Dit was vroeër vanjaar nog R14 miljard. En dis nie al nie: Daar is ’n soortgelyke styging te bespeur wat water betref.

Die ergste van als is dat ons al heeljaar en trouens selfs tydens die Zuma-jare van hooggeplaastes in die regering gehoor het hoe erg dinge gaan. Aanvanklik was hierdie bekentenisse ’n vars bries, maar aan die einde van 2018 het dit nou net ’n onaangename, koue wind geword. Om iets te erken en te betreur terwyl dit weens jou toedoen (oftewel niksdoen) net erger en erger word is ’n klap in die gesig van die mense van wie jy verwag om daarvoor te betaal.

Dit is hoekom die staat as alleenaandeelhouer uiteindelik moet pa staan vir die gemors by Eskom en talle ander instellings wat van Eskom se dienste gebruik maak. Hoewel ons as verbruikers uiteraard moet betaal om ons krag by Eskom te kry, kan daar nie langer van ons verwag word om uitermate hoë prysstygings te dra nie. Hierdie stygings het veel meer met Eskom, en uiteindelik die staat, se wanbestuur en korrupsie te make as met betalende verbruikers. Tog word ons as betalende verbruikers gestraf vir ander entiteite en mense se wangedrag deur Eskom se beoogde 15%-toename in kragpryse.

Terwyl die kragvoorsiener aansoek doen om ’n 15%-verhoging in kragpryse in 2019, het die ouditeur-generaal aangekondig dat die staat meer as R51 miljard se onreëlmatige besteding in die 2017/2018 finansiële jaar aangegaan het. Dit is net by nasionale en provinsiale departemente, asook staatsbeheerde ondernemings en is konserwatief bereken omdat Eskom en Transnet deur privaat maatskappye geoudit word. Altesame 27% van die departemente het ook aangedui hulle het onreëlmatige uitgawes aangegaan, maar weet nog nie hoeveel nie. Die uiteindelike bedrag kan dus veel hoër as R51 miljard wees.

Neem ook in ag dat Eskom vanjaar vir die 2017/2018-boekjaar ’n voorbelaste verlies van R2,6 miljard aangeteken het, sowel as R20 miljard se onreëlmatige uitgawes. Weer eens was daar net ’n erkenning dat daar fout is by Eskom en dat hulle besig is om dit reg te stel. Dink net wat kon al hierdie geld vir Eskom beteken het?

Die ANC as regerende party en die nuwe Eskom-bestuur wil nou voorgee dat daar ’n totale omwenteling by sowel die kragreus as in die land plaasgevind het. Hierdie oëverblindery word versterk deur sogenaamde tugstappe wat teen sondebokke gedoen word. ’n Handjievol het blykbaar al in strafregtelike klagtes of swaar strawwe geëindig (die aard hiervan is heeltemal onbekend), terwyl die groot skuldiges bloot bedank voordat Eskom enigiets aan hulle doen. Baie van dieselfde mense wat gehelp het om die lewensvatbaarheid van Eskom en die staat in geheel te kelder, is boonop steeds deel van die regering en in Eskom se diens.

Behalwe om skok uit te spreek, doen die regering min om die onreëlmatige besteding en korrupsie op alle vlakke van regering, maar veral by munisipaliteite as groot kragverbruikers, hok te slaan.

Eskom se skuld het ook skouspelagtig toegeneem onder ANC-bewind. Volgens Phakamani Hadebe, Eskom se hoof uitvoerende beampte, het dit van R40 miljard in 2008 tienvoudig tot R400 miljard in 2018 toegeneem. Hy blameer dit op lae tariewe en verkope. Wie se skuld is dit? Eskom het ons aangemoedig om nie krag te verbruik nie en dus het hul verkope afgeneem, terwyl mense ook na alternatiewe gekyk het. Beurtkrag en ’n tekort aan steenkool is tans wéér ’n probleem en dit veroorsaak juis dat verkope verder daal.

Dit word als weerspieël in Eskom se jongste finansiële resultate. Dit wys dat sy voorbelaste wins tussen September 2017 en September 2018 skouspelagtig van R8,9 miljard tot R1 miljard gedaal het.

Intussen moet ons blykbaar aanhou om groot prysstygings te dra, al is ons die mense wat wel vir ons krag betaal en niks te doen het met die probleme in die staat en veral Eskom nie. Genoeg is genoeg! Belanghebbendes het tot 30 November 2018 tyd gehad om beswaar teen Eskom se beplande 15%-styging aan te teken deur AfriForum se blad hieroor te besoek. Gee ons ook ’n mandaat om namens jou mondelinge insette by die openbare verhore in Januarie 2019 te lewer.