|

Staan vir AfriForum Jeug in die volgende Tuks VSR-verkiesing


Deur Jhua-nine Wyrley-Birch

Die verteenwoordigende studenteraad is die hoogste studente-leierskapstruktuur van die Universiteit van Pretoria.
“Jy beskerm ander studente se belange op kampus en is deel van iets groter wat ’n werklike impak op studente se lewens het as jy deel hiervan is,” verduidelik Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die VSR is daar om die studente van die universiteit te verteenwoordig en as ’n tussenganger op te tree tussen die bestuur van die instelling en die studente. Dit eis van studenteleiers om selfstandig te wees en om die toenemend onregverdige werklikhede op Suid-Afrikaanse kampusse te verander deur aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

Nou waarom deur AfriForum Jeug staan?
AfriForum Jeug neem sedert 2010 aan die VSR-verkiesings by Tukkies deel en die ondersteuning van studente groei jaarliks. In die 2010-verkiesing het AfriForum Jeug met 1 762 stemme gewen. In 2011 het die aantal stemme gegroei en het AfriForum Jeug 42% van die totale stemme gewen met 2 925. In 2014 het AfriForum Jeug vier setels op die studenteraad ingepalm met die van VSR-president en sekretaris, asook die portefeuljes vir dagstudente en internasionale studente.

Sedert AfriForum Jeug begin deelneem het aan die VSR-verkiesing by Tuks, het dit elke tweede jaar ’n presidentkandidaat-wenner gelewer.
In 2014 is ’n hoogtepunt bereik en het AfriForum Jeug 50% van die totale setels ingepalm, waaronder twee setels op die uitvoerende bestuur van die studenteraad. Ander portefeuljes het studie-finansiering, transformasie, internasionale studente asook verenigings ingesluit. “Die tempo waarteen AfriForum Jeug se steun onder jongmense groei, is ’n bewyse van die stem van protes wat onder studente aan die posvat is teen rasse-ideologië wat toenemend op universiteitskampusse deurgestoomroller word,” het Eduan Dupper, adjunkvoorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug het ook sedert 2010 verskeie indrukwekkende veldtogte begin waarin die drie hoofoogmerke van die organisasie uitgestippel word. Dit is:
• Die ondersteuning en bevordering van moedertaalonderrig;
• Die teenstand teen rasseklassifikasie en diskriminasie; en
• Die behoud van gesonde studentetradisies.

In 2014 het AfriForum Jeug ’n petisie verpsrei waarin studente gemobiliseer is om teen die e-tolstelsel op te staan en laer tariewe vir student te eis.
Regstellende aksie en die impak van rasseklassifikasie is in 2013 uitgelig toe hulle koffie op die Groenkloof-kampus van Tukkies verkoop het en vir elke ras ’n ander bedrag gevra het. ANC-ondersteuners kon koffie verniet kry indien hulle bereid was om R1 in die “korrupsiefonds” in te betaal.

AfriForum Jeug was ook betrokke by die behoud van Tuks Jool toe hulle in 2014 ‘n veldtog begin het en ’n brief aan prof. Cheryl de la Rey, rektor, geskryf het. Die Jeug het kapsie gemaak omdat student nie in besluitnemingsprosesse geken is nie. Die universiteitsbestuur het ná ’n vergadering besluit dat Jool sal voortgaan.

Benewens pogings om ’n impak op kampus te maak, bied die VSR ook geleenthede vir persoonlike groei en ontwikkeling. “Leierskapsontwikkeling is ‘n prioriteit en een van die hoofredes waarom AfriForum Jeug studente aanmoedig om te staan in die VSR-verkiesing”, meen Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.
Roets het ook genoem dat AfriForum Jeug sy verteenwoordigers ondersteun, veral wanneer hulle struikelblokke onervind. “AfriForum Jeug is deel van ’n sterk organisasie en kan regsadvies en verteenwoordiging vir sy VSR-lede bied”, het Roets gesê.

Watter tipe student moet staan?
As jy sterk en passievol voel oor jou taal en kultuur, as jy meer wil groei as ’n leier en as jy nie huiwerig is om ’n standpunt in te neem vir dit waarin jy glo nie, is jy die perfekte VSR-kandidaat. Elke kandidaat het ’n verpligting om AfriForum Jeug se gedragskode na te kom en om hul portefeuljeverantwoordelikhede stiptek uit te voer. Portefeuljes sluit in:
• President
• Sekretaris
• Tesourier
• Bemarking
• Dagstudente en eksterne kampusse
• Internasionale en nagraadse studente
• Verenigings
• Fasiliteite, veiligheid en sekuriteit
• Studie-finansiering en
• Transformasie

AfriForum gee jou ook die ruimte en vrymoedigheid om te debatteer indien jy nie saam met hul sienings stem nie en berei jou as kandidaat goed voor vir jou termyn.
Liezl Aylward, adjunk-sekretaris van die huidige VSR, en voormalige AfriForum Jeug-kandidaat, stem saam dat die VSR die beste ontwikkelingservaring is – op ’n persoonlike en professionele vlak. “Die VSR het my soveel nuwe ervarings, geleenthede en leierskapsvaardige geleer en om deur AfrForum Jeug te staan het my goed voorberei vir die proses. Dit is ook gerusstellend om te weet dat AfrForum daar is om my te ondersteun deur my termyn”, het Aylward gesê.

Indien jy ’n passie het vir jou kampus, jou taal en erfenis en glo dat jy die stem wil wees vir studente op jou kampus, SMS jou naam na 0833813502. AfriForum sal jou terugskakel.

Soortgelyke plasings