|

Spyker in doodskis vir “oneerlike” Phiyega

Die onthutsende gebeure gister voor die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement behoort selfs vir pres. Jacob Zuma die laaste strooi te wees om van die omstrede nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, ontslae te raak.

Só meen Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Dit het gister aan die lig gekom dat Phiyega onlangs teenwoordig was op die vergadering waarop die nege provinsiale kommissarisse besluit het om laer om haar te trek en ’n gesamentlike verklaring ten gunste van haar uitgestuur het.

Opposisiepartye het verontwaardig gereageer toe dié toedrag van sake aan die lig gekom het.

Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, het dit as verregaande bestempel en gesê die provinsiale kommissarisse het geweet van die Farlam-kommissie se bevindinge oor Marikana teen Phiyega en dat hulle daarom besluit het om vir haar op te kom.

Pieter Groenewald van die VF+ het gesê die raad van polisiekommissarisse is ’n belediging vir die polisie en dat hulle Phiyega se voorbeeld gevolg het om oneerlik te wees.

Die portefeuljekomitee het uiteindelik gelas dat die kommissarisse om verskoning moet vra én hul verklaring van steun aan Phiyega moet terugtrek.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het gesê teen die agtergrond dat die polisiemag besig is om heeltemal uitmekaar te val, die verdoemende Marikana-bevindings teen Phiyega én haar oënskynlik desperate poging om provinsiale kommissarisse in haar guns te mobiliseer, behoort die finale spyker in haar doodskis te wees.

Hy het verwys na hoe lank dit Zuma voorheen geneem het om van omstrede polisiekommissarisse soos Jackie Selebi en Bheki Cele ontslae te raak wat ook fundamentele oortredings begaan het. “Ek meen Phiyega gaan dalk nie so lank oorleef nie, gegewe haar politieke profiel wat nie heeltemal so sterk is nie. Maar ons het al gesien dat (pres.) Zuma besluite teen die konvensionele neem en ons sal moet wag en sien wat gebeur.

“Gegewe egter die totale disrespek wat daar toenemende vir die polisie op hoë vlak is, die land wat toenemend onstabiel raak en die naderende munisipale verkiesings, is dit egter moontlik dat Phiyega vinniger die trekpas sal kry.”

Cameron het gesê Phiyega se optrede is ’n skande en ’n klap in die gesig van enige eerbare polisielid wat nog toegewyd is.

“’n Dieper ondersoek is nodig na Phiyega wat duidelik niks anders as ’n politieke aanstelling is nie en wat haar manipulerende gedrag en politieke mag misbruik om haar persoonlike en die ANC se agenda te bevorder.

“Ons het by verskeie geleenthede uitgewys waarom Phiyega geen leierskap het nie en nie geskik is vir haar pos nie. Hierdie is die laaste strooi en ’n bewys dat sy haar pos sou gou moontlik moet ontruim.”

Phiyega het vroeër vandeesmaand ’n verslag aan Zuma gestuur oor waarom sy in haar pos moet aanbly. Dit is nou in sy hande om oor haar lot te besluit.

 

Soortgelyke plasings