Sportkwotas: Minister moet inligting gee én opdok ná hofaansoek


Die burgerregte-organisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit sê dat die sportministerie en verskeie sportfederasies se transformasieteikens vir sport in Suid-Afrika eintlik net die daarstelling van ’n onwettige kwotastelsel is.
Dit volg nadat dié organisasies ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) vandag in die Pretoriase hooggeregshof geargumenteer het dat die ministerie van sport inligting rakende transformasieteikens moet openbaar maak.
Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het die ministerie gisteraand in aanloop tot vandag se hofsitting versoekte inligting rakende sy transformasieteikens aangestuur terwyl die hof vandag beveel het dat die Fikile Mbalula, sportminister, en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie die regskostes van AfriForum en Solidariteit moet betaal.

“Hoewel ons nog besig is om al die dokumentasie te verwerk, is dit reeds duidelik dat die manier waarop transformasieteikens toegepas word, inderwaarheid net op ’n kwotastelsel neerkom – iets wat uitdruklik deur die Grondwet, die Wet op Billike Indiensneming asook verskeie internasionale sportkonvensies verbied word. Ons sal dus sonder twyfel verdere hofaksie bring om die gebruik van kwotas in sport stop te sit,” sê Kruger.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, druis die toepassing van sportkwotas in Suid-Afrika teen verskeie internasionale ooreenkomste in wat Suid-Afrika onderteken en bekragtig het.

“Dis ironies dat die regerende party nóú kwotas toepas terwyl hy in 1970 aan internasionale liggame bepleit het dat sportlui op meriete beoordeel moet word. Ons staan dus steeds by die standpunt dat meriete die enigste faktor in die samestelling van sportspanne moet wees,” sê Kriel.

 

Soortgelyke plasings