Spoorsnyhond en nasionale massapatrollie in Gauteng-Noord


AfriForum se buurtwagte in Grootfontein, Apiesrivier, Bronkhorstspruit, Meyerspark, die Moot, Wes-Moot, Pretoria-Oos en -Wes, asook Rayton en Cullinan het in samewerking met talle ander veiligheidsinstansies, waaronder die Tshwane Metropolisie, die nasionale verkeerspolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Tshwane Metropool, op 4 Augustus 2017 aan die burgerregtewaghond se nasionale massapatrollie deelgeneem.
Die Grootfontein-buurtwag het ook sy spoorsnyhond Tinta aan die gemeenskap bekend gestel, waarna sy ook aan dié patrollie deelgeneem het. Tinta se pligte sal onder meer spoorsny, die agtervolging van voortvlugtende verdagtes en die opspoor van gesteelde goedere, insluit.
Nagenoeg 624 patrolleerders het meer as 9 200 km afgelê en 25 insidente suksesvol hanteer. Die SAPD het ook vyf arrestasies uitgevoer. Dié insidente sluit onder meer dronkbestuur, brandstigting en die identifisering van onpadwaardige voertuie in.

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van hoe doeltreffend veiligheidsinstansies kan wees as hulle een doel nastreef. Misdaad raak almal en dus moet gemeenskappe saamstaan in die stryd om dit te bekamp,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

AfriForum wil elke buurtwaglid, die Tshwane Metropolisie, die nasionale verkeerspolisie, die SAPD en elke privaat instansie vir hul deelname aan die nasionale massapatrollie bedank.
Die burgerregte-organisasie doen ’n beroep op die onderskeie gemeenskappe van die Tshwane Metropool om by hul plaaslike AfriForum-takke en -buurtwagte betrokke te raak en aktief aan die aktiwiteite van die buurtwagte deel te neem. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos na lambert@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings