|

Spesiale Treurgrond-vertoning gryp Suid-Tirolers aan die hart

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons is tydens ons besoek aan Suid-Afrika oor plaasmoorde vertel, maar om self te sien wat werklik plaasvind, is eenvoudig hartverskeurend.”

Só het dr. Gino Bentivoglio, een van die Suid-Tiroolse besoekers, gisteraand oor die brutaliteit van die plaasmoorde gesê waar hulle na ’n spesiale vertoning van die film Treurgrond in Centurion gekyk het.

“Dit was vir my baie skokkend.”

Hy en ’n afvaardiging van Suid-Tirool is tans op uitnodiging van die Solidariteit Beweging op besoek in Suid-Afrika. Hulle het ook die beweging se Toekomsberaad Saterdag bygewoon.

Jana Strydom se karakter, Helena Schoeman, vra in die film: “Wat het geword van eenvoudige meswonde? Nee, deesdae moet slagoffers eers gemartel word…”

Dít verwoord van die vrae wat die Suid-Tirolers het en waarmee Suid-Afrikaners baie dikwels worstel.

Darryl Roodt, bekroonde regisseur van die film, beskryf die film as “’n dokumentêre film wat uitbeeld hoe die hele land en gemeenskap in geheel deur ‘n maatskaplike kwessie uitmekaar geruk en verpletter word”.

Dr. Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit  en mede-outeur van die boek Treurgrond waarvoor die titel ook vir die film gebruik is, het tydens die geleentheid vertel van sy eie familielede wat slagoffers van plaasaanvalle was.

“Om te hoor dat Dirk ook familie het wat vermoor is, is ontstellend en wys hoe algemeen plaasmoorde geword het”, het Bentivoglio gesê.

Hy het voorts gesê hoewel die moorde brutaal is, is dit juis nodig om sulke films te maak sodat die boodskap van nood uitgedra kan word.

Luis Durnwalder, voormalige goewerneur van Suid-Tirool, het gesê ’n film soos Treurgrond kan moontlik te brutaal vir ’n Suid-Tiroolse gehoor wees. Hy stel voor dat ’n inligtingsessie voor die tyd nodig is om konteks te gee vir die gehoor en hulle te waarsku oor wat hulle kan verwag. “Die film is baie wreed. Ons word nooit blootgestel of gekonfronteer met so iets nie. My vrou sal byvoorbeeld glad nie verstaan waarom boere uitgemoor word nie. Hierdie is nie ons realiteit in Suid-Tirool nie.”

Hendrik van den Driesch, wat self ‘n filmmaker in Suid-Tirool is, het gesê dit is nodig om vir mense te wys wat werklik gebeur en dat hierdie boodskap gedeel word. “Suid-Tirolers sal geskok wees, ons is soos julle, lief vir die grond en ons het baie boere en byna almal het familie op plase. Daarom lê hierdie boodskap en hierdie mense ons baie na aan die hart.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het ’n omvattende verduideliking oor die kwessie van plaasmoorde met die afvaardiging gedeel. “Dit is belangrik om die boodskap van plaasmoorde na die buiteland te neem. Ons is baie dankbaar dat hierdie invloedryke groep mense so belanggstel in wat in ons land gebeur. Ons is bly vir hul bereidwilligheid en dat hulle die film positief ervaar het.”

Roets het voorts gesê gesprekke is reeds aan die gang oor verdere internasionale bewusmaking. “Daar word gereël om mense binne die netwerke van Suid-Tirool, dus Italianers, Switsers en Duitsers te nooi om die film te kyk en om te praat oor wat hulle geleer het.”

Roets het sy toespraak spesiaal in Duits gelewer. “Ek verkies om met julle in jul moedertaal te praat, uit respek vir julle en ook om dank te betuig vir julle moeite.”

Hy het verduidelik dat plaasmoorde ’n simboliese probleem geword het. “Mense beskou dit nie net as moorde op mense wat op plase bly nie, maar as ’n aanval op mense se identiteit.”

“Hierdie film sal help om die boodskap oor te dra dat ons nie net van statistieke praat nie, maar van gewone mans, vroue en kinders wat op die wreedse wyse denkbaar vermoor word.

“Wanneer julle na die film kyk, onthou dat hierdie spesifieke storie fiksie is, maar dat dié probleem werklik is.”

Lees hier Ernst Roets se blog: Versoening: Hoe ons misluk het.

 

Soortgelyke plasings