Spel-en-Speel gróter en béter!


AfriForum Onderwys is vanjaar weer betrokke by die negende Spel-en-Speel-kompetisie wat in samewerking met Volksblad by die Eduplus Onafhanklike Skool in Bloemfontein aangebied word. Dié kompetisie vind op laerskoolvlak plaas en is deel van AfriForum Onderwys se moedertaalprojekte vir die bevordering van Afrikaans as onderrigtaal.

Hierdie jaar bars die kompetisie omtrent uit sy nate met 14 laerskole en 122 deelnemers wat mekaar die stryd gaan aansê. Leerders neem in groepe deel en moet verkillende woorde –sommige moeilik, ander lank, alledaags of ongewoon – totdat slegs die sterkste en beste spellers oorbly.

“Daar is opwindende pryse op die spel! Dié kompetisie stel laerskoolleerders reeds op ’n jong ouderdom bloot aan die belangrikheid van spelling. Hulle leer ook terselfdertyd ’n klomp nuwe Afrikaanse woorde aan wat hul woordeskat op ’n prettige wyse uitbrei,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir AfriForum Onderwys.
“Sowel eerste- en tweedetaalsprekers neem aan die kompetisie deel. Dit is lekker om te sien hoe Afrikaans as moedertaal ook meertaligheid bevorder,” voeg Bloem by.

AfriForum Onderwys bied later in die jaar nóg ’n opwindende moedertaalkompetisie aan in die vorm van onvoorbereide debatvoering: Dink of Sink. AfriForum Onderwys nooi graag hoërskoolleerders in spanne van drie elk uit om aan hierdie kompetisies deel te neem.
Besoek gerus AfriForum se webtuiste vir meer inligting oor die kompetisies: https://afriforum.co.za/dink-sink-2019/

Soortgelyke plasings