Spyskaart +

Sosiale media is ’n jeukerigheid wat ons nie kan ophou krap nie

Mei 25, 2017 deur Carien Bloem

Dit raak al hoe algemener dat sosiale media ’n euwel is wat bly kop uitsteek en probleme veroorsaak by kinders op laer- én hoërskool. Dit word ’n medium waarmee kinders gemaklik raak – en voor hulle hulself kom kry, word hulle deur dié voorgeewêreld ingesluk waar alles altyd beter, groter, mooier of duurder is as wat dit werklik is.

Sosiale media bevat ook baie skadelike inhoud en kinders kry dit al hoe minder reg om tussen veilige en onveilige inhoud te onderskei.

Hier is sewe slim wenke om aan jou kinders oor te dra en hulle só teen sosialemediaversoekinge te beskerm*:

  1. Moenie elke uitnodiging aanvaar wat jy op sosiale netwerke ontvang nie. As jy die persoon nie ken nie, moenie hul uitnodiging aanvaar nie. Jy kan dit só aan kinders verduidelik: Sou hulle hul vriende op sosiale media na hul huis toe nooi?
  2. Dink voor jy klik.Nie alle skakels is wat dit voorgee om te wees nie. Leer jou kind (en jouself) om liewer die onderwerp van die skakel op Google na te gaan of om ’n webtuiste se tuisadres in ’n leser te tik. Baie skakels bevat skadelike sagteware wat jou rekenaar besmet sodra jy dit aflaai. Kuberkrakers kan dan toegang tot jou rekenaar, e-pos en sosialemediaprofiele verkry. Dié bedreigings kan lank in jou rekenaar skuil voordat jy dit agterkom.
  3. Verander jou wagwoorde gereeld en maak seker dat dit sterk is.’n Algemene truuk is dat ’n kraker toegang tot jou e-pos kry – en so ook tot jou kontaklys en moontlik selfs jou sosialemediakontakte. Sterk wagwoorde kan belangrike inligting help beveilig. Kies dus ’n wagwoord van minstens 10 karakters wat uit ’n kombinasie van letters, syfers en spesiale karakters bestaan. Verander jou wagwoord gereeld, want dit verminder die kanse dat iemand dit kan ontsyfer.
  4. Moenie sommer alles deel nie.Dit is gevaarlik om inligting en skakels te deel sonder dat jy dit nagaan. Jy word dalk mislei om onvanpaste of skadelike inhoud aan te stuur.
  5. Sê nee vir geo-opsporing: Met opsporingsdienste kan jy jou huidige ligging verklik en dan is dit nie net jou vriende wat kan sien waar jy is nie; jy kan dus ’n spoor laat. Maak seker dat jy jou privaatheidsverstellings nagegaan het, dat geo-opsporing afgeskakel is en jy jou toestemming eers moet gee voordat dit gebruik kan word.
  6. Raak slim oor privaatheidsverstellings:Kyk dat jou en jou kinders se verstellings só is dat net vriende jul plasings en foto’s kan sien.
  7. Oorweeg sagteware of toeps wat jou rekenaars en rekeninge beskerm:Daar is baie opsies beskikbaar; doen navorsing en kies die een wat die beste aan jou behoeftes voldoen.

 

*Bron:  Huisgenoot Digitaal, 17 Junie 2014