|

Sosiale ingenieurswese kelder studentetradisies op die Puk

AfriForum Jeug verneem met kommer – uit die artikel wat 16 Januarie 2020 op Netwerk24 verskyn het – dat studentetradisies op die Puk vanjaar in gedrang is. Dié artikel beweer ook dat tot 50% van eerstejaars nog nie by hul koshuise opgedaag het nie. Met die gebruik van rassekwotas op die Puk, en nie meriete nie, word sosiale ingenieurswese indirek gebruik om die kampus deur middel van ’n politieke agenda te transformeer.

“Die gevolge van die NWU se nuwe rassebeleid is dat hardwerkende studente van verskeie minderheidsgroepe ontneem word van geleenthede waarvoor hulle reeds jare lank op skool gewerk het. Daarteen ag die studente – wat die geleentheid bloot ontvang het – dit nie eens belangrik genoeg om betyds vir die koshuiskalender op te daag nie. Trots word gekoppel aan iets waarvoor jy gewerk het en wat nie net sonder opoffering vir jou gegee is nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug ondersteun gesonde studentetradisies en loods vandag ’n petisie waarby mense hul stem kan voeg. Daarmee gee hulle AfriForum Jeug die mandaat om ’n gesprek oor die kwessies op kampus te begin en ’n afspraak met die NWU-bestuur te maak om die saak met hulle te bespreek.

“Jy as ouer betaal die studiegeld en onderhou die Puk finansieel. Jou ouers en húlle ouers se nalatenskappe gee beurse aan verdienstelike studente. Jy as student onderhou die gees en siel van die Puk. Jy as dosent verseker dat die Puk ’n instelling van uitnemende akademici bly. Julle, jy, het die mag om ’n verskil te maak – teken ons petisie en help ons om die spreekbuis te wees vir dit wat jy op die Puk wil sien,” sluit Pieters af.

Teken die petisie hier: https://afriforum.co.za/joupuk/

Om ons te ondersteun sonder om jou identiteit aan die NWU-bestuur bekend te maak, SMS “Puk” na  32687 (R1).

Soortgelyke plasings