|

Solidariteit Netwerk gaan R4,5 miljard in toekoms van werk belê

Elke geslag het ’n verantwoordelikheid om sy eie toekoms te skep en te bou. Om dit te doen moet daardie geslag egter dit wat hulle van die vorige geslag ontvang het, gebruik, bewaar, ontwikkel en uitbou ten einde weer iets vir die volgende geslag na te laat.

As dit nie gebeur nie, sterf ’n volk of gemeenskap uit.

Met dié woorde het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, vandag ’n toekomsvisie gedeel vir Afrikaners wat ondanks moeilike omstandighede in die land gaan bly en nie kan of gaan emigreer nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het aangekondig dat R4,5 miljard in die volgende vyf jaar in die aktiwiteite van die organisasie belê gaan word om ’n netwerk van werk te skep. Hierdie geld gaan onder meer gebruik word vir die verdere ontwikkeling en uitbouing van Sol Tech, Akademia en ’n alternatiewe Afrikaanse skoolstelsel. Die vakbond Solidariteit het ook vandag tot ’n nuwe organisasie omvorm wat as Solidariteit Netwerk bekend sal staan.

Hermann het verwys na navorsing van Solidariteit wat bevind het 67% van mense jonger as 40 jaar oorweeg emigrasie sterk, 98,5% van hulle het egter nog niks daaraan gedoen nie. Daarteenoor oorweeg 11% van mense ouer as 40 om landuit te gaan. Die werklikheid is egter dat 85% van Afrikaners dit nie kan bekostig nie en ook nie oor die nodige akademiese kwalifikasies beskik nie.

Volgens Buys en Hermann is dit uiters belangrik dat vroegtydig planne gemaak word om te verseker dat mense in die toekoms werk sal hê sodat hulle vry, veilig en voorspoedig in die land kan bly. “Afrikaners kry ook vandag meer kinders. Ons het ’n plig en verantwoordelikheid om vir hierdie kinders se toekoms te beplan en te bou,” sê Hermann.

Hermann sê die skep van ’n nuwe netwerk van werk is ook die antwoord op die vierde industriële revolusie en op ’n verswakkende staat. “Ontwrigtende nuwe kennis gaan die wêreld van werk in die toekoms ontsluit. Dit is geweldig bevrydend om te dink dat nuwe kennis vir ons die antwoorde en oplossings gaan gee op kwessies en vrae waarvoor daar nie voorheen antwoorde was nie.

“Wat dit nog meer opwindend maak, is dat mense nie vir die sentralistiese staat, wat by die dag verder agteruitgaan, gaan moet wag om met oplossings te kom nie. Nuwe kennis gaan meebring dat die staat al hoe minder mag het.”

Op ’n vraag hoe die kapitaal vir die nuwe netwerk van werk bekom gaan word, het Buys verwys na ’n nuwe eiendomsbeleggingsmaatskappy, ’n Kanton, wat ’n vennootskap tussen kapitaal en kultuur gaan fasiliteer. Die gemeenskap gaan dus belê in die bou van die Akademia-kampus wat uiteindelik sowat 6 000 studente sal akkommodeer.

Hermann het gesê met die jongste Solidariteit Netwerk-inisiatief versterk Solidariteit sy boodskap aan sy lede en gemeenskappe: “In plaas van trek, gaan ons bou. Ons gaan instellings bou, ons gaan die toekoms bou en ons gaan op hoop bou.”

Soortgelyke plasings