|

Solidariteit Jeug sien om na jongmense in die werkplek

Die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (Saqa) het verlede jaar bekend gemaak dat die koers waarteen Suid-Afrikaners tersiêre kwalifikasies verwerf die koers van werkskepping ver verbygesteek het sedert 1994.

Millenniërs (mense gebore tussen 1981 en 1998) maak tans 45% van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag uit vergeleke met die 29% vir generasie X (mense gebore tussen 1965 en 1980) en 21% vir baby boomers (mense gebore 1946 tot 1964).

Navorsing wat deur Chantelle Solomon gedoen is, wat ’n meestersgraad in bestuursafrigting aan die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool (USB) verwerf het, dui daarop dat millenniërs se ambisie ten opsigte van vooruitgang gekoppel is aan hul behoefte om te groei en te ontwikkel – persoonlik sowel as professioneel – en om betekenisvol in hul werk betrek te word.

Hulle word meer intrinsiek aangedryf deur persoonlike motivering eerder as deur ekstrinsieke motiveerders soos status en finansiële beloning wat weer vir die ouer geslag belangrik is.

Solomon sê haar navorsing het bevind daar is ’n groter impak op die oorbrugging van die verwagtinggaping tussen verskillende generasies wanneer millenniërs deel van mentorskappe in hul organisasies was.

Met net meer as 70% van die millenniërs in Suid-Afrika wat na verwagting binne vyf jaar na ’n ander organisasie sal skuif, is dit volgens Solomon hoog tyd dat organisasies ’n manier vind om hierdie talentvolle, professionele werkers te behou deur hul verwagtinge doeltreffend te bestuur.

Solidariteit Jeug is daar om dié toekomstige werknemers, sowel as hul werkgewers, by te staan.

Dié jeugvleuel van die vakbond Solidariteit is vanjaar op 16 Mei amptelik bekend gestel en het reeds sowat 3 600 lede, hoofsaaklik tussen die ouderdomme van 18 en 25 jaar.

Volgens Paul Maritz, koördineerder vir Solidariteit Jeug, fokus die vakbond daarop om sy lede te help om goeie werk te kry en om dit te behou. Hulle het egter besef dat daar ‘n groot leemte is wat jongmense en die werksomgewing betref.

Solidariteit Jeug bied ’n interaktiewe aanlyn-platform propvol wenke oor onder meer vakkeuses, studies, eerste werke, begrotings, CV-templette, werksonderhoude en werkskontrakte.

“Ons voel dit is veral belangrik om skoliere advies te gee rondom vakkeuses want hulle besef nie altyd hoe dit hul tot ’n mate bind wat hul toekoms betref nie,” meen Maritz.

“Solidariteit wil graag ons jongmense help om die gaping te oorbrug van skolier na studentwees en van studentwees na jong werknemers wat werklik ‘n waardevolle bydra in hul werksomgewing kan lewer. Ons help jou om jou CV só op te stel dat jy as kandidaat uitstaan en ons lig jou in wat tydens werksonderhoude van jou vereis word. Ons gee ook wenke om jou eerste werkservaring op te doen en help jou om jou loopbaan deur selfverbetering te ontwikkel.”

Solidariteit Jeug bied ook verskeie internskapgeleenthede, asook leieropleiding vir hoërskoolleerlinge aan.

Hulle werk ook tans aan ’n gids vir maatskappye wat dien as hulpmiddel rondom die aanbieding van internskappe. “Baie maatskappye sien interns as ’n las omdat hulle nie weet hoe om hulle reg te benut nie en ons wil hulle bystaan en touwys maak oor hoe internskappe op ’n sinvolle wyse aangebied kan word.”

Solidariteit Jeug-lede kry ook voorkeur met internskappe binne die Solidariteit Beweging, afslag op voortgesette leeropsies by S-leer en gratis toegang tot Solidariteit se beroepsgildes.

“Die idee is dat jongmense by Solidariteit Jeug aansluit in hul matriekjaar vir hulp met studiekeuses en dat hulle tydens hul studentejare by AfriForum Jeug aansluit wat meer kampusgedrewe en aktivisties ingestel is. Daarna kan hulle weer by Solidariteit Jeug inskakel,” meen Maritz.

Vir meer inligting of om gratis aan te sluit as ’n lid van Solidariteit Jeug , besoek www.jeug.co.za

Soortgelyke plasings