|

Solidariteit gaan pensioenkaping met mening beveg

 

Solidariteit sal tot in die grondwetlike hof veg om te keer dat werkers en pensioenarisse se pensioene gekaap word om in sukkelende staatsondernemings te belê.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vandag tydens ’n blitsseminaar in Centurion gesê dit is onaanvaarbaar dat die staat sy hande op mense se pensioengeld wil lê wat hulle gespaar het om sorgvry te kan aftree. “Die regering is met ’n gevaarlike denkfout en politieke praatjies besig, terwyl dit net verkeerd is om mense se pensioengeld in staatsinstellings te belê. Staatskaping en staatsbankrotskap kan nie met pensioengeld reggestel word nie.”

Hermann sê Solidariteit sal nie net pensioenfondse nie, maar ook elke trustee verantwoordelik hou indien daar nie na die belange van pensioenarisse omgesien word nie.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, meen dit is belangrik dat druk uitgeoefen word om te keer dat die staat sy hande op pensioenfondse lê.

Hy sê daar is nie fout daarmee indien pensioenfondse in goeie beleggings belê word nie, dit is wel ’n probleem as die staat jou forseer om in voorgeskrewe fondse te belê waar jy geen voordeel uit gaan kry nie. “Eskom is byvoorbeeld nié ’n goeie belegging nie.”

Volgens Roodt wil die staat sy hande op mense se pensioenfondse en gevolglik hul spaargeld lê weens ’n enorme fiskale tekort, die staat se astronomiese skuldlas en omdat hulle steeds wil voortgaan om meer te spandeer as wat hulle inkry. Voorts moet die staat iewers geld vandaan kry omdat belasting nie verder verhoog kan word nie.

Roodt het verduidelik dat Cosatu aanvanklik die idee gesteun het dat staatspensioene gebruik word omdat hulle nie wil sien dat die staat se salarisrekening gesluit word nie.

Volgens Roodt moet weerstand gebied word sodat die staat nie uiteindelik geforseerde beleggings aan pensioenfondse voorskryf nie.

Roodt meen druk moet ook op die staat geplaas word om die staatsdienspensioenfonds na ’n bedraende of voordelefonds te verander sodat mense self verantwoordelike besluite oor hul geld kan neem en byvoorbeeld ’n gedeelte daarvan in die buiteland kan belê.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het daarop gewys dat Suid-Afrika een van die beste pensioenbedrywe ter wêreld het. Die pensioenbedryf maak sowat 73% van die land se ekonomie uit teenoor Duitsland se 11% en Frankryk en Italië se 7%. “Dis ’n trots wat oor dekades opgebou is en nou beskerm moet word.

“Hardwerkende mense se pensioengeld word al jare misbruik vir politieke doelwitte en dit het pensioenfondslede al miljarde rande gekos. In ’n land soos Suid-Afrika bepaal politiek grootliks die ekonomie en nie soos in Amerika waar die ekonomie die politiek bepaal nie.

“Die misbruik en plundering van pensioengeld vir politieke doelwitte is die rede waarom omtrent net 9% van mense kan aftree met die wete dat hulle genoeg het om van te lewe.

“Die land se pensioenfonds is die land se heel grootste bate en verteenwoordig die spaargeld van bykans 17 miljoen pensioenlede  ten bate van R4 triljoen,” sê Buys.

Buys het gewys op verskeie misbruike van pensioengeld soos die verwatering van pensioene deur maatskappye wat in terme van BEE-wetgewing gratis hul aandele moes uitdeel aan polities gekoppelde magnate. Miljoene gewone mense is ontmagtig om enkeles te bemagtig. Nog ’n misbruik was die belas van pensioene vanaf 1996 tot 2006 wat pensioenlede sowat R50 miljard gekos het. Ander misbruike sluit in die perk op buitelandse beleggings, swak staatsbestuur, politieke inmenging in die sakewêreld wat die ekonomie strem, die gehalte van politieke beleid wat tot afgradering gelei het en die jarelange versuim om nog kragstasies te bou. Die grootste vernietiging in die land was ook nie die van infrastruktuur nie, maar van intellektuele kapitaal met talle kundiges wat die land verlaat het.

Connie Mulder, navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het gewys op die verskillende metodes wat die ANC-regering aanwend om hul hande op pensioengeld te probeer lê en waarom dit juis so belangrik is dat die pogings op elke denkbare terrein beveg moet word.

Volgens Mulder is dit eenvoudig immoreel om mense wat 30 of 40 jaar lank vir hul oudag gespaar het se geld net te steel sodat dit die Guptas se huise in Dubai kan afbetaal.

Mense wat Solidariteit se veldtog teen pensioenkaping wil steun, kan die woord “Steun” na 34802 SMS.

Soortgelyke plasings