|

Solidariteit dien klagtes in teen BLF ná walglike uitsprake

Suid-Afrikaners was vroeër vandeesmaand gewalg deur die opmerkings van lede van Black First Land First (BLF) nadat ’n tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark die lewens van vier leerlinge geëis het.

Lucille Olivier, ’n ouer van die skoolgemeenskap, het haar stem by duisende mense gevoeg wat geskok was deur lede van die BLF en Lindsay Maasdorp se uitsprake op sosiale media waarin hulle hul verlekker het oor die dood van vier wit kinders nadat ’n loopvlak by die skool op hulle ineengestort het. Twintig leerlinge is in die fratsongeluk beseer.

“Die was nie ’n rasgebonde tragedie nie. Wit en swart kinders het seergekry; wit en swart kinders het saam gehuil. Hulle almal is óns kinders en dit is ons álmal se tragedie,” het Olivier gesê.

Die vakbond Solidariteit het namens Olivier en verskeie ouers van die slagoffers ʼn klag by die SAPD, asook by die gelykheidshof teen BLF-lede gelê. ’n Klag is ook by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien waarin versoek is dat die BLF nie toegelaat word om aan die komende verkiesing deel te neem nie weens hul rassistiese uitsprake.

Die klag wat by die SAPD ingedien is, is een van crimen injuria wat op die onwettige, opsetlike en ernstige benadeling van die menswaardigheid van ʼn ander persoon fokus. Dit behels ook rasse-aanhitsing en nadelige aanmerkings wat op die betrokke slagoffers se ras betrekking het.

Die klag by die gelykheidshof is gelê kragtens artikel 10 van die Gelykheidswet, wat fokus op die verbod op haatspraak.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die vakbond het ’n mandaat van verskeie ouers gekry om met regstappe teen die BLF en sy leiers te begin.

Maasdorp, BLF-woordvoerder, se uitlating was: “I would ‘mourn’ the deaths of the victims if they turned out to be black but ‘celebrate’ them if they were white. If our God has finally intervened and our ancestors have petitioned and seen that these white land thieves have now died then I definitely celebrate it. I celebrate the death of our enemies, their children, their cats and their dogs. That is our position.”

Hermann meen rassehaat deur randfigure kan nie toegelaat word nie. “As niks daaraan gedoen word nie, word dit die norm. Die regstelsel is ontwerp vir die uitsondering, nie die norm nie. Dit is juis vir mense soos Maasdorp ontwerp. Die regstelsel straf nou sodat die volgende onbekende slagoffer van die randfiguur beskerm word. Ons moet die volgende onskuldige slagoffers beskerm teen die pyn en trane weens die BLF se rassehaat.”

Soortgelyke plasings