|

Solidariteit Beweging stap totale beroepspad saam met jongmense

As daar een groot veranderlike vir die toekoms van die Afrikaner is, is dit die veerkragtigheid van Afrikaanse jongmense. Hulle bons terug. Niks kry hulle onder nie.

Só meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Hy het by die beweging se  Toekomsberaad oor die toekoms van werk en opleiding vir die volgende geslag in Suid-Afrika gepraat.

“Ons mag nie, bloot omdat ons verwysingsraamwerk nie ʼn toekoms sien nie, vir jongmense sê daar is nie antwoorde nie. Hulle wag in die pylvak vir daardie aflosstokkie wat ons moet oorgee. Ons mag nie die aflosstokkie laat val bloot omdat ons glo dat  ʼn volgende geslag nie die wenpaal gaan haal nie. Ons is verantwoordelik vir ons been van die wedloop,” meen Hermann.

Hy het uitgebrei oor die verskeie maniere waarop die beweging jongmense help voorberei en ’n beter beroepstoekoms vir hulle help verseker.

“Binne die werklikheid van die onvriendelike staat wat verswak, die nuwe moontlikhede van ontwrigtende kennis en jongmense met blink oë, het Solidariteit die netwerk van werk begin. Binne die groter beweging het ons ʼn groepering van instellings wat met werk en opleiding te doen het onder die vaandel van die Solidariteit NetWerk.”

Volgens Herman moet die Solidariteit NetWerk toesien dat die Solidariteit-ledegemeenskap, die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig in die werkplek is.

Solidariteit stap die totale beroepspad saam met ons jongmense en volgens Hermann is dit die grootste werksplan nóg;

  • Solidariteit Jeug het binne ’n jaar vir sowat 8 000 jongmense profiele geskep om hulle te help met beroepsvoorbereiding en dit gaan van krag tot krag.
  • Solidariteit het pas begin om mense wat werk ook volgens hul beroep te organiseer. Oor tien jaar gaan daar ʼn reusenetwerk van beroepsgildes rondom Solidariteit georganiseer wees. Die gildes gaan jongmense help om die arbeidsmark te betree.
  • Sol-Tech het reeds 1 200 studente in die onderskeie fases van ambagsopleiding vir sewe ambagte. Sol-Tech word geag as een van die topkolleges in Suid-Afrika. ’n Nuwe kampus van sowat R300 miljoen is ook begin.
  • Akademia het sentrums regoor die land en dit gaan nog verder uitgebrei word. Tussen 30 en 40 grade word nou vir akkreditasie voorberei. Grond vir die groot nuwe kampus is reeds bekom. Daar word vir 6 000 studente beplan en die kampus maak voorsiening vir koshuise, ʼn studentelewe en sportvelde.
  • Die Solidariteit Helpende Hand het reeds 5 000 studente teen ʼn bedrag van R200 miljoen gehelp. Die mikpunt teen 2030 is om die studiefonds tot R1 miljard uit te bou.

Volgens Hermann moet die Solidariteit NetWerk toesien dat die Solidariteit-ledegemeenskap, die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig in die werkplek is.  “Almal wat wil werk, moet kan werk,” meen hy.

Soortgelyke plasings