Header Artwork
Solidariteit Beweging se krisisfonds moet groei om versnelde nood en armoede te verlig

 

Die Covid-19-pandemie het derduisende mense en gemeenskappe se lewens oornag ontwrig en tot groot krisisse gelei.

Die staat se hantering van dié krisis het egter tot gevolg dat dit nou dreig om ’n ekonomiese ramp te word.

Daarom het die Solidariteit Beweging en sy ledeorganisasies vandag ’n dringende beroep op lede en die publiek gedoen om die fonds te ondersteun sodat nóg meer gedoen kan word om gemeenskappe, wat al hoe meer bedreig word, by te staan.

Sedert die fonds elf weke gelede gestig is, is R16,5 miljoen daarin gestort. Honderde projekte is uitgerol en duisende gesinne is met die geld gehelp om nou te oorleef.

Flip Buys, voorsitter van die beweging, sê daar moet reguit gepraat word en mense moet besef dat die Covid-krisis dreig om ’n ekonomiese ramp te word. Dit kan toegeskryf word aan die regering se bestuur van die ekonomie voor, tydens en ook ná die krisis.

Hy het gewys op die hoë werkloosheidsyfer, mense wat steeds hul werk verloor, hoë staatskuld, geen ekonomiese groei, wanbestuur in die algemeen en die staat se belaglike en irrasionele regulasies sedert die pandemie uitgebreek het. Dit het die land en ekonomie onberekenbare skade berokken en die regering weet nie hoe om hieruit te kom nie.

“Daarbenewens het die regering se rassesosialisme ook na vore gekom met pres. Cyril Ramaphosa wat knaend praat van radikale ekonomiese transformasie en ’n nuwe gelyke ekonomie. Die regering gebruik alle belastingbetalers se geld, maar wanneer dit by die toedeling daarvan kom, word ras gebruik. Ons is op ons eie. Dit is erg om dit te besef, maar ook bevrydend. Ons is nie afhanklik van die staat nie en ons moet nou meer as ooit na mekaar uitreik en mekaar help.”

Volgens Buys het die beweging voor die krisis sterk na vore gekom en die situasie bestuur. “Ons moet die fonds gebruik om armoede te voorkom, te verbreek en te verlig.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê almal kry swaar, maar die organisasie het dit reggekry om sy aktiwiteite in hierdie tyd te versnel en baie meer mense het betrokke geraak.

Hy meen minderhede besef hulle het die status van tweedeklasburgers gekry en dat die grondwetlike bedeling hulle nie beskerm nie.

“Dit is bevrydend en bring vir ons nuwe moontlikhede. Selfstandige gemeenskappe is ’n magsinstrument en reddingsboei in ’n omgewing van rasgedrewe politici. Ons gaan die ekonomie oorleef!”

Hy het verwys na die werk wat AfriForum se 153 buurtwagte, 150 takke, 173 personeellede en 12 000 vrywilligers in die tyd gedoen het. Meer as 35 ton kos en 28 000 maaltye is versprei. Sowat 15 000 bottels handreiniger is by ouetehuise en instansies uitgedeel en nasionale patrollies is hervat na die verligting van die inperking om gemeenskappe te beveilig. Daarbenewens is 27 geboue ontsmet en 560 skole met hulppakkette bygestaan.

AfriForum Netwerk het tot 15 000 ondernemings gegroei wat aanlyn geregistreer is en die Suid-Afrikaanse Diaspora by AfriForum het bykans 600 navrae gekry van mense wat gesukkel het om na Suid-Afrika terug te keer of in haglike omstandighede in kwarantyn aangehou is.

Verskeie regsaksies is ook teen die regering ingestel.

Dapper Media en die FAK het ook projekte van stapel gestuur en tuiskonserte gehou om kunstenaars in die tyd van nood by te staan.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê elf weke gelede was ons onseker oor wat ons kan verwag.

“Ons is steeds onseker en het steeds nie al die antwoorde nie. Ons het wel gesien dat op ’n ekonomiese krisis volg ’n maatskaplike krisis en daar gaan nog baie meer van ons verwag word in die tyd wat voorlê.”

Helpende Hand kon 14 500 gesinne in nood bystaan en meer as ’n duisend instansies soos kinderhuise en sopkombuise is bygestaan om met hulpverlening te kan voortgaan.

Volgens Noëth het die druk toegeneem toe die staat kosverspreiding wou sentraliseer en hofsake is begin om dit teen te staan. “Fase 2 van die krisis lê voor en ons sal nog meer intens en meer indringend moet werk om ons mense te help. Ons moet ons strukture sterker maak en verseker dat dit wat ons doen ’n blywende en volhoubare verskil maak.”

Noëth sê dit is nou tyd om hoop te behou. “As ons op ons eie was, sou ons intens gevrees het. Maar nou weet ons ons kan saamstaan en sterker hieruit kom.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Covid-krisis het die veerkragtigheid van die instellings getoets. “Ons het nou gemeenskappe sien werk en ons doen dit self.”

Solidariteit het binne 48 uur ’n krisissentrum op die been gebring wat meer as 500 000 besoeke gehad het.

Veldtogte is geloods om gesonde werk te bevorder en om mense se werk ook te beskerm. Toe skole gesluit is, is die Wolkskool aanlyn uitgebrei en meer as 17 000 leerlinge het dit gebruik. Meer as 29 000 onderwysers is tydens webinare opgelei en drie groot hofsake is aangepak sodat onderwys kan voortgaan.

Te midde van die krisis het Akademia en Sol-Tech ook met die opleiding van studente voortgegaan. Maroela Media het ook van krag tot krag gegaan en 2,6 miljoen besoekers in ’n enkele maand gehad.

Volgens Hermann gaan ons nog ’n werkskrisis sien met baie mense wat afgelê of nie betaal gaan word nie. “Gewone broodwinners het nou hulp nodig en nog meer lê vir ons voor. Ons sal egter anderkant uitkom. Ons het ’n geskiedenis van opstaan in moeilike tye. Daarom móét ons die krisisfonds ook na die volgende fase neem.”

Enigiemand wat ’n bydrae tot die fonds wil lewer, kan www.krisisfonds.co.za besoek.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR