|

Solidariteit Beweging hou toekomsberaad op 10 Oktober om hoop te skep

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, hou op 10 Oktober ’n toekomsberaad in Pretoria waar na planne en oplossings vir die pad na 2030 gekyk sal word gegewe die verval en agteruitgang in die land.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, doen ’n beroep op lede om die beraad in groot getalle by te woon. “Hierdie beraad het ook ten doel om hoop te gee. Ons het planne en die vermoë om dit uit te voer. Ons mag nie neerslagtig en negatief raak nie. Ek is vandag meer positief as 20 jaar gelede. Die rede hiervoor is dat ons weet ons nie afhanklik van die staat is nie. Ons glo in selfbestuur en ons het reeds baie reggekry.”

Kriel meen daar is groter eenheid onder Afrikaners as vroeër. AfriForum het meer as 231 000 lede en die beweging in totaal meer as ’n halfmiljoen. “Ons is sterker as ooit te vore en daarom kan ons hoopvol veg en bou.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die beraad val ook op oudpres. Paul Kruger se verjaarsdag en daarom sal dié beraad ook op waardevolle lesse uit die verlede fokus. “Ons mense is onseker en wonder of daar vir hulle ’n toekoms in die land is. Ons glo die toekoms is wat gebeur as jy dit self bou. Die wêreld kan totaal verander. Daar is vandag kragtige nuwe tegnologie wat oplossings vir misdaad en onderwys bring. Ons moet dit aktief gebruik om vir ons ’n toekoms te skep.”

Hermann meen die boodskap moet duidelik wees: “Ons is hier om te bly en omdat ons bly gaan ons veg vir wat reg is en bou aan ’n beter toekoms.”

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dié organisasie het reeds 41 gemeenskapswinkels in die land. “Ons moenie moedeloos raak oor dit waarby ons nie kan uitkom nie. Ons het sedert Helpende Hand begin is groot vordering gemaak. Ons besef ook dat ons nie oor die toekoms beskik nie, maar ons mag nooit spyt wees dat ons nie gedoen het wat ons moes nie.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê die beraad val ook op ’n dag wat lank as Heldedag gevier is. “Ons moet op die dag ook erkenning gee aan ons helde.”

Volgens Langner is die FAK en ander organisasies ook hard besig om aan die toekoms van Afrikaans te bou met talle lewenskragtige projekte wat aan die gang is. “Ons geskiedenis word vandag afgebreek, maar daar is ook nuwe verhale van bou waarop ons moet fokus.”

Belangstellendes wat die beraad wil bywoon, kan by www.beweging.co.za gaan registreer.

Soortgelyke plasings