|

Solidariteit Beweging het plan vir universiteitskrisis en steun prostudie-byeenkomste

Die Solidariteit Beweging dring daarop aan dat universiteite so gou moontlik heropen om prostudie-studente se regte te beskerm om met hul studies te kan voortgaan.

Die beweging wat Solidariteit, AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit Helpende Hand insluit, het vandag ’n 10 punt-plan vir die universiteitskrisis in Centurion aangekondig.

Flip Buys, voorsitter van die beweging, het gesê ’n klein groepie radikale studente is besig om in weke af te breek wat in dekades by die land se universiteite opgebou is. Hy het gesê dié studente skep nou hul eie tronk en sien nie hul eie verantwoordelikhede raak nie. “Die kortpad in die lewe is die een die doodloopstraat in. Die lang pad is die regte pad.”

Buys het gesê die regering en universiteitsbesture het ’n groot aandeel in die huidige krisis. As hulle betyds opgetree het, het die situasie nie ’n onbeheerbare probleem geword nie.

Hy het daarop gewys dat meer as ’n miljard rand se skade reeds aan instellings aangerig is, terwyl nie een student nog aangekla of vervolg is nie.

Buys het gesê gratis onderrig is glad nie haalbaar nie. Boonop voltooi 70% van studente wat met Nsfas-lenings studeer nie hul studies nie, terwyl net 2% enige gelde terugbetaal. Verder behaal net 4 uit 100 kandidate wat matriek slaag uiteindelik ’n universiteitskwalifikasie. “Dis ’n enorme vermorsing en nie volhoubaar nie.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die betogings en optrede van aggressors op kampusse dui daarop dat hulle met ’n revolusie besig is en dat dit glad nie meer net oor studiegelde gaan nie. Hy het gesê die organisasie sal met alle prostudie-groepe samesprekings voer om te verseker dat universiteite heropen en oop bly.

Hy het ook verwys na die misbruik van universiteite wat met Afrikaans wil wegdoen. Hy het gesê onderrig in Afrikaans is ’n grondwetlike reg en daar sal met regstappe in die verband voortgegaan word. “Afrikaans sluit nie uit soos wat beweer word nie. Dit verbreed inderwaarheid toegang. Dit is ironies dat radikale studente op die “dekolonisering” van universiteite aandring in Engels wat juis die koloniale taal is. AfriForum glo in die verbetering van die ander inheemse tale en sal voortgaan om daarvoor op te staan.”

Kriel het gewaarsku dat die frustrasie van studente wat wil studeer, kan begin oorkook as die situasie by universiteite nie normaliseer nie.

Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, het gesê universiteitsbesture het ’n verantwoordelikheid om tugstappe teen oproerige studente te doen en hulle strafregtelik aan te kla. Op die oomblik word hulle net geskors en die krisis nie opgelos nie.

Die 10 punt-plan wat aangekondig is, behels onder meer:

  • Skakeling met universiteite, die regering, politieke partye, studente-organisasies en die polisie om die situasie te normaliseer en ’n veilige akademiese omgewing te verseker;
  • Regstappe teen universiteite wat nie die regte van die meerderheid studente beskerm nie;
  • Aandrang op die voortsetting van studenteraadverkiesings by Tukkies, Kovsies en Maties sodat demokraties verkose studente gekies kan word wat die belange van die meerderheid studente op die hart dra;
  • Vergadering met universiteitsbesture om dosente en ander personeel se veiligheid te verseker;
  • Voortgesette optrede en gesprekke om te kyk hoe behoeftige studente gehelp kan word aangesien gratis tersiêre onderrig nie moontlik is nie;
  • Die uitbou van Helpende Hand se studiefonds. Meer as 5 000 studente is reeds met rentevrye lenings gehelp;
  • Regsaksie teen universiteite wat studente se reg om in Afrikaans onderrig te word, misken;
  • Die verwerping van politieke projekte wat daarop neerkom dat Suid-Afrikaanse universiteite se standaarde en opleiding daal; en
  • Die uitbouing van Akademia as private universiteit om deel van die oplossing in die land te wees.

Soortgelyke plasings