|

Solidariteit Beweging beraam groot planne vir behoud van Afrikaanse onderrig

 

Die Solidariteit Beweging het vandag ’n toekomsberaad in Centurion aangebied om planne te bedink om Afrikaanse onderrig, wat toenemend onder enorme druk is, te ondersteun en uit te bou.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging het, het tien stellings oor onderwys gemaak wat ’n antwoord kan wees op die groot druk wat Afrikaners en Afrikaanse onderrig tans beleef.

Buys het gesê Afrikaners moet hulle volle potensiaal en vermoë verwesenlik, as minderheid moet hulle meerderheidkennis hê, hulle moet besef onderwys is die beste belegging wat mens kan maak, terwyl sukses bepaal word deur die gehalte van die mens en nie die land nie.

Buys het gesê ’n klein volk moet hom nie laat tel nie, maar laat weeg. Om sukses in onderwys te behaal, moet die hele waardeketting ontwikkel word van kleuterskole, laer- en hoërskole, kolleges en universiteite.

Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense vir hul roeping en nie beroepe nie opgelei word. In die verband is dit net so belangrik dat ’n onderwyserskorps opgelei word wat bepalend vir goeie onderwys is.

Buys het die belangrikheid van moedertaalonderrig en die korrelasie wat dit met ekonomiese voorspoed het, ook beklemtoon. “Afrikaanse skole is steeds die beste en moet ondersteun word.”

Buys se boodskap was dat kinders se toekoms te belangrik is om aan die staat oorgelaat te word. En daarom het dit van kritiese belang geword dat Afrikaners moet besef dat hulle skouer aan die wil moet sit en dat die toekoms wat hulle wil hê, hulleself gaan moet skep.

Verskeie sprekers en kundiges van onder meer die SAOU en Fedsas is deel van die beraad.

 

 

Soortgelyke plasings