|

Só lyk universiteitsfooie in 2017

Ondanks die feit dat Suid-Afrikaanse universiteite vanjaar onder die #FeesMustFall-beweging gebuk gegaan het, is ’n algemene klasgeldverhoging van 8% by verskeie tersiêre instansies vir 2017 goedgekeur.

Dít volg nadat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, in September vanjaar aangekondig het dat universiteite self moet bepaal met watter persentasie hulle klasgeld vir 2017 gaan verhoog.

Die minister het tydens sy aankondiging in September verduidelik dat die outoriteit om te besluit oor studiefooie nie by die regering lê nie, maar by universiteitsrade.

Sy aanbeveling was egter dat universiteite dit nie met meer as 8% verhoog nie.

Nzimande het voorts gesê dat die regering sowat R2,5 miljard opsy gesit het om studente wie se ouers of voogde ’n huishoudelike inkomste van minder as R600 000 per jaar verdien te subsidieer om die gaping tussen 2016 se klasgeld en die aangepaste bedrag vir 2017 by hul universiteit te dek.

Dié studente, asook alle studente wat vir die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kwalifiseer, sal volgens Nzimande dus geen klasgeldverhoging vir 2017 ervaar nie.

Dié sogenaamde “gapingsbefondsing” word slegs by instellings waar die verhogings 8% en minder is, gedoen.

Só lyk verskillende universiteitskampusse se klasgelde in 2017:

  • Kovsies: Klas- en koshuisgelde by die Universiteit van die Vrystaat (UV) word aanstaande jaar met 8% verhoog. Volgens prof. Nicky Morgan, waarnemende visekanselier van die UV, is die universiteit bewus van die finansiële druk wat huishoudings tans ervaar en het die universiteitsbestuur sy pro-armes-benadering duidelik gemaak. Morgan sê ook dat die besluit om gelde te verhoog in lyn is met Nzimande se aanbevelings dat studente wie se gesinne ’n gesamentlike jaarlikse inkomste van R600 000 en minder verdien, nie die verhoging hoef te betaal nie.
  • Maties: Klasgeld by die Universiteit Stellenbosch (US) styg aanstaande jaar met 8% terwyl koshuisgeld met 10% styg. Volgens die US is dié styging in koshuisgeld noodsaaklik weens die universiteit se besluit om ’n beleid van “lewensvatbare kontraktering” te volg ná studente se #EndOutsourcing-betogings. Die US-raad het ook in ooreenstemming met Nzimande se aanbevelings goedgekeur dat studente uit gesinne met ’n jaarlikse huishoudelike inkomste van minder as R600 000 aanstaande jaar dieselfde studie- en verblyfgeld as in 2016 sal betaal en dat koshuisbeurse aangepas word om die verhoging in verblyfgeld te dek.
  • Wits: Shirona Patel, woordvoerder van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het op 5 Desember 2016 in ’n verklaring gesê die kampus gaan ook sy klasgeld vir aanstaande jaar met 8% verhoog. Dié verhoging is van toepassing op klas- en koshuisgeld, asook internasionale studente se klasgeld. Volgens Patel het die universiteit geen ander keuse nie as om die klasgeld te verhoog omdat die universiteit se uitgawes dit nie anders toelaat nie. Sy het ook gesê die universiteit sal aanhou streef om toegang tot gratis hoër onderwys van gehalte ’n realiteit te maak. Sy meen Wits neem ook kennis van die staat se toegewing om die verhoging te befonds vir alle studente met ’n familie-inkomste van minder as R600 000.
  • NWU-Pukke: Luidens ’n verklaring wat die Noordwes-Universiteit (NWU) in November vanjaar uitgereik het, is die voorgestelde universiteitsbegroting vir 2017, wat op ’n diepgaande analise van die universiteit se finansiële posisie gebaseer is, tydens die raadsvergadering op 17 November 2016 goedgekeur. ’n Jaarlikse verhoging van 8% in studie- en inwoningsgeld is ook as deel van die begroting goedgekeur en studente met NSFAS-beurse of wat in die “vergete middelgroep” val, sal nie geraak word nie.
  • Tukkies: Volgens ’n mediaverklaring van die universiteit se uitvoerende bestuur sal klasgeld in 2017 ook nie vir arm studente en die sogenaamde vermiste middelklas by die Universiteit van Pretoria (UP) verhoog word nie. Luidens dié verklaring sal daar ook geen verhoging in koshuisgeld vir dié studente wees nie en hoef hulle ook nie die aanvanklike registrasiegeld te betaal nie indien hulle aan die universiteit se akademiese vereistes voldoen. Vir ryker studente styg klasgeld egter met 8%.

Soortgelyke plasings