|

Só lyk ANC Jeugliga-president se omstrede huis in spogwoonbuurt in Pretoria

Talle vrae en bewerings hang om die kop van Mokone Collen Maine, president van die ANC Jeugliga, wat onlangs groot media-aandag op homself gevestig het toe dit aan die lig gekom het dat hy ’n huis van R5,4 miljoen in die Woodhill-landgoed in Pretoria gekoop het.

Daar is baie vrae oor hoe die relatiewe onbekende Maine, wat glo tussen R30 000 en R50 000 per maand verdien, ’n lening vir so ’n duur huis kon kry. En dit boonop van die Bank of India.

Maine is in September verlede jaar tot president van die ANC Jeugliga verkies. Sy verkiesing het die wenkbroue laat lig aangesien hy vir dié posisie “gekwalifiseer” het ’n maand voor die afsny-ouderdom vir jeugligalede. In Suid-Afrika word mense van 35 jaar en ouer nie meer as jeugdiges gereken nie.

Maine was voor sy aanstelling LUR vir plaaslike regering en huisvesting in Noordwes.

Uit ’n ondersoek deur die Forum Nuus-verslagspan die afgelope weke blyk dit dat daar steeds meer vrae as antwoorde is oor hoe Maine die huis bekom het of daarvoor kon kwalifiseer. Volgens Forum Nuus se inligting is ’n “korporatiewe lening” aan Maine en sy vrou, Kelebogile Patience, deur die Bank of India toegestaan.

Volgens die bank word korporatiewe lenings toegestaan vir die finansiering van die opstel van ’n onderneming se infrastruktuur, om bedryfskapitaal vereistes na te kom asook vir in- en uitvoergeriewe.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, meen daar moet ondersoek ingestel word na wat se soort onderneming Maine vanuit Woodhill, ’n residensiële gebied, gaan of wil bedryf. Forum Nuus het tydens sy ondersoek vasgestel dat daar boonop op die oomblik verder aan die eiendom gebou word.

“Daar moet ook vasgestel word hoekom Maine ook van die Bank of India en nie enige ander Suid-Afrikaanse bank gebruik gemaak het nie.”

Hy meen Maine se voorkeur vir die Bank of India laat ernstige vrae ontstaan of dit enigsins verband hou met sy deurlopende verdediging van die omstrede Gupta-familie se sakebedrywighede in die land en hul verbintenis met pres. Jacob Zuma.

Maine was onder meer in die nuus nadat hy verskeie kere vir Zuma in die bresse getree het. Hy het onder meer in Februarie gesê die ANC-jeugliga sal “bloed vergiet” en “ ’n burgeroorlog verklaar” as die EFF Zuma se staatsrede ontwrig.

Hy het ook gesê die ANC-jeugliga sal nie toelaat dat Julius Malema en “sy ape” Suid-Afrika in ’n piesangrepubliek verander nie.

Die DA-jeug het in reaksie op dié uitlatings geëis dat die Menseregtekommissie (MRK) Maine ondersoek.

Maree het gesê Suid-Afrikaners sal ook baie graag wil weet hoe iemand soos Maine so ’n luukse huis kan bekostig terwyl talle van die maatskappye waarby hy vroeër betrokke was intussen gederegistreer is. Die maatskappye sluit in Mokone Mokgoloko Consulting, Mokone Mokgoloko Projects, Southern Ambition 285, Sekukune Trading en Sign en Seal Trading 193.

Ondersoeke na wat die dienste, produkte of aard van die ondernemings was, het weinig opgelewer behalwe dat dit “konsultasiedienste vir lewer ou en nuwe ondernemings is”.

AfriForum gaan die Openbare Beskermer versoek om ondersoek in te stel of enige belastinggeld deur Maine gebruik is om ’n persoonlike eiendom te bekom.

Maine was voordat hy LUR in Noordwes geword het, ook lid van die Nasionale Vergadering waar hy op verskeie komitees gedien het.

Morné Mostert, nasionale woordvoerder van AfriForum Jeug, het gesê Maine se loopbaan getuig nie van veel sukses nie en wat hy bereik het is aanduidend van wat in die toekoms van hom verwag kan word. “As dit die manier is hoe hy handel en optree, gaan sy strukture onder hom dieselfde prestasies lewer.”

Maine kon nie vir kommentaar bereik word nie.

 

 

 

Soortgelyke plasings