|

Skryfkompetisie help om Afrikaans springlewendig te hou

Deur Alana Bailey

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse kompetisie vir Afrikaanse skryf- en digwerk is tans weer in volle swang. Vanjaar is R18 000-prysgeld op die spel. Dit sluit kontant en die geleentheid vir deelname aan ’n slypskool, aangebied deur die bekroonde joernalis en skrywer, Karen Brynard, in.

Hierdie skryfwedstryd, wat die eerste keer in 1979 aangebied is, is tans die grootste van sy soort in Afrikaans. Dit word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), asook die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat aangebied. Vier gesoute, onafhanklike beoordelaars, wat self bekroonde skrywers en akademici is, identifiseer jaarliks onontdekte skryftalent wat die inskrywings oplewer.

Bekendes wat in die verlede as wenners aangewys is, sluit onder andere Jaco Jacobs, Carina Diedericks-Hugo, Fanie Viljoen, Sonja Loots, Piet Steyn, Dirk Winterbach, Hannes Haasbroek, Ode Krige, Japie Bogaards en die 2017-wenner van die Ingrid Jonkerprys, Hilda A. Smits, in. Hilda, wat tans in die VSA woon, het juis haar digbundel waarvoor dié prys ontvang is, by die BSV in Bloemfontein kom bekendstel. Binnekort debuteer Hannes Visser, ook ’n voormalige BSV-wenner en die redakteur van Courant in Oudtshoorn ook  hy gaan in Mei 2019 sy digbundel by NALN bekendstel.

Veral skoolgroepe en tersiêre studente word aangemoedig om in groot getalle aan hierdie tradisieryke skryfwedstryd deel te neem.  Daar is selfs aanmoedigingspryse vir niemoedertaalsprekers van Afrikaans.

Inskrywings kan uit ’n kortverhaal, kort kortverhaal, skets, essay of gedig bestaan. Weninskrywings word ook jaarliks in die publikasie Inkvars gepubliseer. Dit staan onder die redakteurskap van Corlietha Swart.

Die wedstrydreëls en inskrywingsvorms kan elektronies by http://bloemsv.wordpress.com afgelaai, of van die BSV-sekretaresse, Roline Brits, by bloemsv@gmail.com verkry word. Die sluitingsdatum is 13 Mei 2019.

Soos reeds genoem is, sal deel van die kompetisie se prysgeld uit beurse vir deelname aan die jaarlikse Nasionale BSV-slypskool vir Ontluikende Skrywers bestaan. Dié skool sal op 24 Augustus 2019 in Bloemfontein aangebied word en kan ook deur enige ander belangstellende teen koste bygewoon word. Meer besonderhede sal later vanjaar bekendgemaak word. AfriForum is trots om weer eens as borg van hierdie geleentheid op te tree.

Daar is tans verskeie kompetisies en pryse wat die skep van Afrikaanse letterkunde aanspoor. Dit dien die belangrike doel om die gehalte van Afrikaanse skryfwerk steeds uit te bou en jong skrywers aan te moedig om in Afrikaans te skep. Waar die taal as medium van onderrig onder toenemende druk staan, speel sodanige kompetisies ’n noodsaaklike rol in die voortbestaan en groei daarvan.

Soortgelyke plasings