|

Skolesportliggaam maak ommekeer oor kwotas ná ingryping deur AfriForum

Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (Sasa) het skielik van sy kwotaplan vir skole-atletiekspanne afgesien nadat AfriForum in ’n skrywe aan die liggaam aangedui het dat hy van voorneme is om dié planne in die hof te beveg.

Sasa het op 5 en 25 Februarie in omsendskrywes aan provinsies geëis dat minstens 40% van die atlete in alle distriks- provinsiale en nasionale skolespanne nie op meriete gekies word nie, maar uit voorheen benadeelde gebiede moet kom.

Peppi Olevano, sekretaris-generaal van Sasa, het aangevoer die radikale stap is nodig omdat daar nie genoeg swart atlete in spanne is nie.

Dit het tot ’n openbare storm gelei met ouers, afrigters en skoolbeheerliggame wat woedend gereageer het.

Gistermiddag het Olevano skielik ’n verklaring uitgereik waarin beide omsendbriewe teruggetrek word. Daarin sê hy dat Sasa voortaan sy seleksiekriteria met die van Atletiek Suid-Afrika (ASA) sal belyn. Die sluitingsdatum vir inskrywings vir skole se baan- en velditemkampioenskappe wat vandag was, is tot Vrydag uitgestel om provinsies kans te gee om hul seleksie van atlete te hersien.

Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, sê die organisasie verwelkom dit dat rassekwotas nie meer toegepas gaan word. “AfriForum Jeug sal egter die finale aankondiging van die atletiekspanne streng dophou om te verseker dat Sasa doen wat hy sê.”

Volgens Maree is die aankondiging ’n oorwinning vir atlete wat eintlik veronderstel is om aan sport deel te neem en geleenthede te kry, en nie op grond van hul ras beoordeel moet word nie.

Terwyl dit lyk of Sasa tot nuwe insigte gekom het, veg die vakbond Solidariteit vandag in die arbeidshof in Johannesburg voort dat die ministerie van sport en ontspanning se transformasiehandves tersyde gestel moet word. Dit sal die toepassing van kwotas by verskeie sportliggame beëindig.

Solidariteit en AfriForum het in Maart 2017 daarin geslaag om spesifieke kwotapersentasies vir verskeie sportsoorte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te bekom. Dié inligting ontbloot dat die bedoeling van die sportowerhede met betrekking tot kwotas veel verder strek as net spankeuses. Dit behels selfs die rassesamestelling van afrigters, raads- en komiteelede en ondersteuningspersoneel.

Werner Human, adjunkhoof van Solidariteit, sê hulle is hof toe, want as die transformasiehandves goedgekeur word, het Tokozile Xasa, minister van sport, bykans onbeperkte mag oor sport.

Die aansoek word deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika (KSA), Ateletiek Suid-Afrika (ASA), Netbal Suid-Afrika (NSA) en die minister teengestaan.

Human sê om met kwotas in sport vol te hou, en sportsoorte in Suid-Afrika verder te politiseer, is ’n resep waarvolgens alle spelers verloor word. Die saak duur voort.

 

Soortgelyke plasings