|

Skoleplasings vir Gauteng-leerders geskied in Oktober

Die burgerregtewaghond AfriForum is bly om te verneem dat ouers eersdaags sal weet in watter skole hul graad 1- en graad 8-kinders vir die 2021-skooljaar geplaas gaan word.

Ouers sal van 1 Oktober 2020 per SMS in kennis gestel word en het dan sewe dae om die Departement se aanbod aangaande die skool te aanvaar. Dit is belangrik dat ouers moet weet dat almal nie op een slag SMS’e gaan ontvang nie. SMS’e aangaande die plasingsaanbod kan enige tyd van 1 Oktober tot 30 November 2020 verwag word.

Ouers gaan moontlik ook meer as een aanbod ontvang. Indien een van die twee aanbiedings aanvaar word, sal die ander outomaties verval. Om die plasing te aanvaar, kan ouers www.gdeadmissions.gov.za besoek.

Volgens die Gautengse Onderwysdepartement word leerders geplaas volgens die afstand wat hul van die skool af woon – leerders wat die naaste aan die skool woon, sal voorkeur geniet. Die voedersone van ’n skool en ’n skool se kapasiteit sal ook in ag geneem word.

Die Departement het egter bygevoeg dat skole in Gauteng steeds ’n groot probleem ondervind wat kapasiteit betref. Al die leerders wat aansoek gedoen het, gaan weereens nie in die 2021-skooljaar geakkommodeer kan word nie. In Gauteng is 409 770 graad 1- en graad 8-aansoeke ontvang waarvan slegs 373 634 van hierdie leerders in skole geakkommodeer sal kan word.

“AfriForum is bly om te verneem dat die plasings binnekort gaan plaasvind en ons hoop dat dit vir ouers bevestiging sal gee oor hul kinders se onderrig vir die 2021-skooljaar. Dit bly egter ’n groot bekommernis dat daar steeds nie genoeg skole in Gauteng is om aan die hoeveelheid leerders se onderrigbehoeftes te voldoen nie. Die oplossing is egter glad nie om enkelmediumskole op te gee om hierdie probleem die hoof te bied nie, soos Panyaza Lesufi aanvoer nie. Gehalte-onderrig lê in moedertaalonderrig in enkelmediumskole. Meer skole moet gebou word en meer aandag moet aan die ontwikkeling van gehalte-moedertaalonderrig vir alle leerders in Gauteng en in Suid-Afrika gegee word,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

Indien ouers enige probleme met die plasingsproses ervaar, kan hul die Onderwysdepartement skakel by 0800 000 798. Ouers is ook welkom om ’n e-pos na onderwys@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings