|

Skokkende dokumentêr oor bedelaars se dwelmverslawing vrygestel

Solidariteit Helpende Hand het vandag ’n skokkende dokumentêre film in Pretoria bekendgestel oor die verwoestende dwelmverslawing van bedelaars.

Die film is daarop gemik om die publiek in te lig oor wat werklik met hul geld gebeur wanneer hulle dit vir bedelaars op straathoeke gee.

Navorsing wat gedoen is, dui daarop dat tot 90% van dié bedelaars, dwelmverslaafdes is wat net 10% van die geld wat hulle kry vir kos gebruik.

In die dokumentêr vertel verskeie dwelmverslaafdes, rehabiliterende verslaafdes, familielede en hoofde van sentrums wat verslaafdes bystaan van die ondenkbare hel waardeur mense gaan wat in die web vasgevang is.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het gesê min mense besef wat die werklike omvang van die probleem is. Die veldtog wat die organisasie bekendgestel het, naamlik #Geeonsreg? is daarop gemik om mense bewus te maak dat om geld vir bedelaars te gee wat aan dwelms verslaaf is hulle op geen manier help nie.

Verslaafdes het aangrypende verhale vertel oor hoe hulle alle gevoel vir hulself en naasbestaandes verloor het toe hulle dwelms begin gebruik het. Hulle leef in haglike omstandighede en is gewoonte leuenaars wat hul gewoonte op enige denkbare manier in stand probeer hou. “Jy sal enigiets doen vir jou volgende fix. Jy voel niks. Jy sal enigiets doen vir geld om dwelms te kan koop,” het een vertel.

Nog en het vertel hoe hy in die intensiewe eenheid van ’n hospitaal beland het na ’n oordosis en dat dwelms hom alles, maar alles in die lewe gekos het.

’n Jong vrou het gesê: “Ek het my werk, my huis, my man en my kind verloor. Ek het my self gehaat.”

Van die verslaafdes het vertel dat hulle gemiddeld R150 per dag op straat maak om hul verslawing in stand te hou. Jong meisies het vertel hoe hulle leuens vertel en tot R1 500 per dag kan verdien deur te bedel.

Hulle het ook vertel hoe geredelik dwelms beskikbaar is. Dat dit oral in skole is en dat Nigeriërs oral op straathoeke gereed staan om dit te voorsien.

Ado Krige van House Regeneration, ’n sentrum waar tientalle verslaafdes met intensiewe programme gehelp word om van dwelms af te kom, het gesê jongmense begin gewoonlik weens verkeerde vriende met dwelms eksperimenteer. Dit gebeur ook by partytjies waar drank, seks en dwelmgebruik aan die orde van die dag is. “Daar is nie ’n dorp of stad in die land waar vreemdelinge uit ander lande dwelms onder kinders verkoop nie.”

Ouers van dwelmverslaafdes het ook hul pynlike verhale en trauma gedeel en gesê: “Ouers met ’n dwelmverslaafde kind hou op leef. Jou kind word jou dwelm, want jy wonder heeltyd wanneer hy weer gaan terugval of die ergste gaan gebeur of hy iets aan homself gaan doen.”

Krige het beaam wat Brink gesê het en meen as die publiek begin om op te hou om geld vir dwelmverslaafde bedelaars te gee, dit hul lewens sal kan verander. Hulle is mense wat hulp en ondersteuning nodig het. Geld in die hand help hulle nie en hou hulle vasgevang in die genadelose web van verslawing wat uiteindelik tot baie se dood en ondergang lei. Geld behoort aan organisasies en instansies gegee te word wat weet hoe om met verslaafdes te werk.

De Wet Potgieter, joernalis en navorser vir die dokumentêr, het gesê dit help nie om geld vir verslaafdes te gee nie. “Hulle manipuleer mense en speel op hulle gevoelens.”

Potgieter se grootste kommer is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens geen operasies het om dwelmnetwerke en sindikate te ontbloot nie. “Hulle is oral en niks word daaraan gedoen nie.”

 

 

Soortgelyke plasings