Sigbaarheidpatrollie in Oos-Moot stuit kabeldiewe

Lede van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het op 18 Julie 2019 twee kabeldiewe in samewerking met die SAPD en Kilnerpark Sekuriteit tydens een van dié buurtwag se sigbaarheidpatrollies gearresteer.

’n Lid van die gemeenskap het die buurtwag in kennis gestel dat drie verdagtes besig was om kabels te steel. Die buurtwag het dadelik een van hul gebeurlikheidsplanne in werking gestel en saam met die SAPD, Kilnerpark Sekuriteit en Moot Crime Stop (MCS Sekuritiet) die verdagtes agterna gesit. Twee van die verdagtes is gearresteer.

“Die feit dat gemeenskapslede inligting regstreeks aan die buurtwag kan kommunikeer, maak hierdie tipe patrollies suksesvol. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale koördineerder vir gemeenskapsveiligheid in Limpopo.

“Ek wil die patrolleerders graag bedank wat byna elke nag die koue trotseer om die gemeenskap te beveilig. Die buurtwaglede wat vroegoggend gereageer het om die verdagtes vas te trek, moet vandag weer voldag werk. Die gemeenskap wat saamstaan en onbaatsugtig hulle eie tyd opoffer, maak ’n merkbare verskil,” sê Gideon van Deventer, operasionele koördineerder vir AfriForum se Oos-Moot Buurtwag.

Soortgelyke plasings