Shaun Abrahams heroorweeg besluit om Duduzane Zuma nie te vervolg nie ná Gerrie Nel privaat wou vervolg


AfriForum se regspan is amptelik in kennis gestel dat die nasionale direkteur van openbare vervolgings, Shaun Abrahams, besluit het om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aanvanklike besluit te heroorweeg om Duduzane Zuma, seun van voormalige president Jacob Zuma, nie op ’n strafregtelike klag van strafbare manslag te vervolg nie.
Die saak hou verband met ’n motorongeluk wat op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng deur Zuma jr. veroorsaak is. ’n Jong, vroulike passasier in ’n ander voertuig, Mekelina Dube, is op slag dood.
Abrahams se besluit om die saak te hersien volg ná adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, einde verlede jaar ’n skrywe namens die Dube-familie aan die NVG gerig om ’n nolle prosequi-sertifikaat aan te vra, wat dit vir AfriForum moontlik sou maak om Zuma jr. privaat te vervolg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Abrahams se besluit nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie, Gerrie Nel en AfriForum nie, maar vir almal in die land wat keelvol is dat oudpresident Zuma, sy vriende en familie die afgelope paar jaar vervolging kon ontduik weens die beskerming wat die leierskap van die NVG hulle gebied het. “AfriForum het Abrahams nou in ’n hoek gedryf, want sou hy weer ’n besluit neem om Zuma j. nie te vervolg nie, weet hy dat Gerrie Nel gereed staan om dié vervolging privaat voort te sit. Sou hy sy werk reg doen en besluit dat die NVG Zuma jr. gaan vervolg, is dit óók ’n oorwinning vir die Dube-familie, AfriForum en gelykheid voor die reg,” voeg Kriel by.
Kriel wys daarop dat Abrahams soortgelyke druk vanaf Gerrie Nel sal moet trotseer wanneer hy eersdaags ook moet besluit of die NVG oudpresident Zuma op korrupsieklagtes gaan vervolg. “Abrahams weet dat, sou hy besluit om Jacob Zuma nie te vervolg nie, Nel gereed staan om Zuma privaat te vervolg. Hopelik sal dit hom dwing om die regte ding te doen deur te besluit dat die NVG Zuma wel moet vervolg,” sê Kriel. Die publiek kan AfriForum help om verdere druk op die NVG te plaas om Jacob Zuma te vervolg deur die Vervolg Zuma-petisie by www.vervolgzuma.co.za te onderteken of hul naam na 45352 te SMS (R1).

Die druk wat die media, AfriForum en ’n reeks ander burgerlike organisasies uitoefen om selektiewe vervolgings en staatskaping te beveg, is volgens Kriel besig om te help dat die gety teen korruptes begin draai. Die besluit van die owerhede om ná jare van doelbewuste gesloer met optrede teen die Guptas te begin, is volgens Kriel onder andere ’n gevolg van dié volgehoue druk. Kriel noem dat Nel en AfriForum se vervolgingseenheid die optrede teen die Guptas dophou en meer as gewillig is om self in te gryp as dit nodig sou wees.
Wat AfriForum se voorgenome optrede teen Grace Mugabe betref, dui Kriel aan dat AfriForum se hofaansoek om Mugabe se diplomatieke immuniteit in Suid-Afrika ter syde te laat stel op 8 en 9 Mei in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor word.

“Daar is ook ’n positiewe wending wat Gerrie Nel se voorgenome privaat vervolging van adv. Jiba betref, aangesien die NVG se weiering om Jiba te vervolg deur die howe ter syde gestel is. Ook in dié geval weet Abrahams dat – sou hy weer besluit om Jiba nie te vervolg nie – Gerrie Nel gereed staan om die saak namens gen. Johan Booysen verder privaat te vervolg, het Kriel gesê.

Volgens Kriel gaan Nel binne die volgende maand verdere aankondigings maak oor verdere sake wat AfriForum se privaat vervolgingseenheid gaan aanpak.
 

Soortgelyke plasings