|

Shakespeare dalk binnekort uit skoolkurrikulum “gedekoloniseer”

Die werke van William Shakespeare, wat beskou word as die wêreld se bekendste digter en dramaturg, gaan dalk binnekort minder prominent voorkom en moontlik heeltemal verwyder word uit die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum.

Dít volg nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, onlangs in antwoord op vrae in die parlement oor die dekolonisering van onderwys gesê het dat die werke van Shakespeare een van die aspekte is in die algehele hersiening van letterkunde in die nasionale kurrikulum.

Dié hersiening sal na verwagting in 2018 begin en volgens Motshekga is daar ’n behoefte om “nader te beweeg aan die groter insluiting van Afrika en Suid-Afrikaanse skryfwerk vir romans, dramas en poësie”.

Gavin Davis, DA-woordvoerder oor onderwys, sê die party ondersteun die idee om leerlinge te bemagtig om krities betrokke te raak by die wêreld om hulle, maar dat die kurrikulum ook eg Suid-Afrikaans moet wees. Hy sê die party ondersteun nie die verwydering van skrywers om ideologiese redes nie.

Prof. Chris Thurman, ʼn professor in Engels verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, meen Shakespeare is nie relevant vir skoolkinders nie omdat dit ʼn “ onoorkombare struikelblok” is.

Hy meen hy is nie teen die afskaffing van Shakespeare se werk as dit beteken dat sy werk met meer toeganglike Suid-Afrikaanse skrywers vervang kan word nie.

Die onderwysdrukgroep Equal Education (EE) verwelkom ook die minister se besluit om die kurrikulum te hersien. Hul meen daar is plek vir Shakespeare in die kurrikulum, maar slegs in ’n verkleinde rol.

Volgens die bekende skrywer Jeanette Ferreira word kinders egter bemagtig deur die werke van Shakespeare op skool te bestudeer.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat hoewel sy ook voel dat Suid-Afrikaanse en Afrika- skryfwerke nie genoeg blootstelling kry nie, die verwydering van Shakespeare uit die kurrikulum kinders sal benadeel.

“Shakespeare se werke is absoluut tydloos omdat dit oor universele en menslike onderwerpe soos haat, jaloesie, liefde en ambisie handel. Dit is belangrik dat kinders se skoolwerk oor plaaslike én internasionale skrywers handel sodat hulle meer oor die wêreld daar buite kan leer en verstaan.”

ʼn Student wat Shakespeare op skool en tot op derdejaarsvlak aan die Universiteit van Pretoria (UP) bestudeer het, het aan Forum Nuus gesê dat dit sinneloos is om ʼn taal aan te bied sonder om sy bekendste skrywer se werke te behandel of te erken. “Shakespeare se werk verryk nie net leerlinge se kennis oor digkuns en poësie nie, maar ook hul kennis oor die geskiedenis en ontwikkeling van die Engelse taal. Engels kan eenvoudig nie sonder Shakespeare aangebied word nie.”

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit positief dat lyste van voorgeskrewe boeke gereeld hersien word om te verseker dat leerlinge skrywers uit hul eie land en die res van die wêreld ontdek en sodoende ook aan hul werk blootgestel word.

Sy sê voorts dat indien hersiening plaasvind, moet dit gaan oor kennisverbreding en gehalte, en nie oor ideologiese gedienstigheid of die mode van die dag nie.

“Leerlinge moet ook wel kennis neem van die strominge van hulle tyd, maar dit kan nie die grondslag wees waarop voorgeskrewe werke gekies word nie. Hulle moet ʼn tydlose insig en kennis kan verwerf. En goeie letterkunde, soos Shakespeare, is tydloos.”

Soortgelyke plasings