--> -->
Spyskaart +

Sewe belangrike feite oor migrasie

Julie 2, 2019 deur Alana Bailey

Migrasie bly ’n warm tema.  In die buiteland bepaal migrasiebeleide selfs toenemend verkiesingsuitslae en moet politieke partye baie duidelik in hulle manifeste uitspel hoe hulle oor immigrasie na hulle onderskeie lande voel.

In Suid-Afrika emigreer heelwat mense tans en is die ou verstokte debat van “bly of gaan” weer aan die woed op verskillende mediaplatforms – iets wat totaal onnodig is.

Na 29 jaar se ervaring met immigrante na Suid-Afrika, emigrante uit Suid-Afrika en remigrante wat weg was en na die land terugkeer, is daar ’n hele paar feite oor die migrasie van Suid-Afrikaners wat ek graag weer in die kollig wil plaas.

  1. Persoonlike besluit

Die eerste is dat die besluit om te emigreer of te bly, ’n persoonlike besluit is.  Niemand het die reg om die besluit van enige ander persoon te veroordeel nie, omdat elkeen van ons ’n eie waardestelsel het wat ons keuses bepaal.  Probleme wat vir die een mens onoorkomelik blyk te wees, pla die ander een glad nie.  Elkeen het eie standaarde van lewensgehalte wat vir hom ononderhandelbaar is.  Elkeen beleef ervarings wat ’n invloed op hom uitoefen waarop hy reageer op ’n manier wat hemelsbreed verskil van iemand anders se reaksie.  Een persoon is ’n slagoffer van ’n voertuigkaping en dit maak hom net meer vasberade om in die land te bly en misdaad teen te staan, terwyl die volgende só deur vriende wat so ’n ervaring beleef se belewenis geraak word, dat hy summier begin beplan om te emigreer.  Dit maak nie van een van die twee se keuses ’n fout nie, want vir hulle met hulle lewensuitkyk is dit die regte keuse.  Dit is die realiteit.  Diep gelowiges se keuses verskil.  Sommige glo hulle is geroepe om te bly en hier ’n verskil te maak, ander glo hulle is geroepe om elders ’n rol te gaan speel.  Met ons aardse insig kan ons nie besluit wie reg of verkeerd is nie.  Elkeen moet self besluit en dit is nie ’n besluit wat aan enigeen buite gesinsverband verduidelik hoef te word nie.  Niemand hoef ook die besluit om te bly of te gaan te verdedig nie.  Dit is jou besluit en jy moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar – ook as die besluit om te bly of te gaan mettertyd ’n fout blyk te wees.  Ons het baie bronne tot ons beskikking om navorsing te doen oor al die voor- en nadele van elke opsie, asook gesonde verstand om te dink of ons met die keuse sal kan saamleef.  Sorg net dat jou besluit ’n ingeligte besluit is en nie aangevuur word deur ’n tydelike opwelling van emosie nie.

  1. Min dinge in die lewe is seker

Die ou grappie sê net twee goed in die lewe is seker: belasting en die dood.  Dit is ook so met ’n besluit om te gaan of te bly.  Vandag mag iemand 100% seker voel oor sy keuse, maar oor ’n jaar het sy omstandighede soveel verander dat die besluit nie meer sinvol is nie.  Mense wat nie kon wag om te emigreer nie en verklaar het “dat hulle sommer op die lughawe hulle Suid-Afrikaanse paspoorte gaan verbrand” moes al om verskeie redes terugkeer, van veranderde gesondheidstoestande, verlange, nuwe besigheidsgeleenthede in Suid-Afrika, ’n onvermoë om elders aan te pas, of werksverlies.  Mense wat weer aan die ander kant gesweer het hulle sal die laaste mense wees om Suid-Afrika te verlaat, het geëmigreer om soortgelyke redes.  Skielik trou hulle met ’n buitelander en volg dié oorsee, of kry ’n werksaanbod wat te goed is om te weier, raak ’n misdaadslagoffer en sien nie meer kans vir die lewe in Suid-Afrika nie, of ’n duisternis ander redes.  Moet dus nooit dink enige keuse is permanent nie – wat natuurlik nog ’n rede is waarom jy nie ander se keuses moet veroordeel nie.  Belangriker nog is dat jy ook nie brûe moet verbrand nie (soos die lawwe paspoort voorbeeld bo).  Maak seker geen besluit sal jou gevange hou as jy van plan sou verander nie.

  1. Mense verander

Dikwels word mense se besluit om te verhuis of te bly, deur familielede of vriende bepaal.  Dit is baie gevaarlik.  Ouers verlang byvoorbeeld na kinders en pak alles op om by hulle in die buiteland aan te sluit.  Daar gekom is die kinders en kleinkinders reeds gevestig in ’n nuwe roetine en vriendekring en die ouers pas nie noodwendig daarby aan nie.  Hulle mag dan vereensaam – veral as hulle nie meer baie mobiel of welvarend is nie.  Net so verlang emigrante soms terug na vriende en familie “by die huis” en migreer terug, maar hier gekom, ontdek hulle die mense het aanbeweeg, nuwe vriende gemaak, nuwe stokperdjies gekry en het min tyd om aan hulle te spandeer.  Die keuse vir terugkeer moet dus op baie meer as die herinnering aan goeie tye saam met geliefdes in die verlede berus.

  1. Prioriteite verander

Op verskillende ouderdomme gaan verskillende prioriteite geld, wat ook die keuse oor waar “huis” is, sal beïnvloed.  Vir ’n jongmens is die kwessie van bevordering waarskynlik minder belangrik as vir iemand wat al meer as tien jaar in ’n beroepsveld is.  Mense sonder kinders verplant makliker – hulle het nog nie die behoefte aan ’n familienetwerk wat kan help kinders oppas en grootmaak, familiebyeenkomste met niggies en nefies, ooms en tantes, of ’n skoolervaring vir hulle kinders binne ’n waardestelsel soos dié waarmee hulle grootgeword het nie.  Ouer mense moet baie meer op kwessies soos die waarde van ’n pensioen te midde van wisselkoers skommelings en beskikbare gesondheidsorg fokus, as iemand in sy vroeë twintigs.  Jongmense wat nou maklik wortels uittrek en gesonde, aktiewe ouers agterlaat, sal skielik nuwe oorwegings hê as die ouers ouer word, hulpbehoewend word en nie in ’n ander land by hulle mag aansluit nie.  Dit moet by keuses in gedagte gehou word.

  1. Kuier is nie bly nie

’n Land lyk wonderlik as jy daar toer of tydelik daar werk, want jy het jou retoerkaartjie in jou sak.  Buitelanders is oor die algemeen ook baie vriendeliker teenoor ’n toeris as teenoor ’n migrant, want die toeris bring geld in, maar die migrant kompeteer met hom vir plaaslike hulpbronne.  Moet dus nooit verlief raak op ’n land gebaseer op jou ervaring as ’n toeris nie.  Doen moeite om werklike lewensomstandighede na te vors voor jy die tasse toerits.  Dieselfde geld ook vir remigrasie.  As jy een keer in drie jaar by die familie kom kuier vir twee weke, is almal dol van vreugde om jou te sien en te onthaal.  As hulle egter sien jy trek in met geen plan om weer te gaan of na jouself om te sien nie, is die ervaring dalk minder warm en gasvry …

  1. Probleme in land een is probleme in land twee

As probleme in jou eie of gesinslewe opduik, gaan geen verhuising dit oplos nie.  As jou huwelik nie werk nie, is dit iets wat jy en jou huweliksmaat moet uitsorteer.  Of jy nou in Perth of Petrusburg bly terwyl jy dit doen, maak weinig verskil.  As Sarie verkeerde maats by die skool maak, of Hansie begin met dwelms eksperimenteer, is die probleem nie jou adres nie, maar iets wat in die gesin opgelos moet word.  As jou lewensuitkyk somber is en jy nie die nuus van die dag in die oë kan kyk nie, gaan dit elders ook so werk.  In Suid-Afrika is dit dalk misdaadberigte wat jou teen die mure uitdryf, in Engeland dalk die onsekerheid oor Brexit, in Ysland dalk die weer.  Jou persoonlike ingesteldheid gaan ’n rol speel en verhuising is geen kits antwoord nie.

  1. Salaris versus lewenskoste

Om na ’n salaris alleen te kyk, is nie voldoende nie.  Jy moet ook die bedrag met jou vereistes en lewenskoste in die land waarin jy dit verdien, vergelyk.  In Suid-Afrika is dit nogal noodsaaklik om privaat vir mediese versekering voorsiening te maak, dalk eie sekuriteit, ons belastings is hoog, die koste van goeie privaat- of openbare skole is duur.  Elders is daar dalk soortgelyke kostes wat nie dadelik sigbaar is nie.  Gratis onderrig en mediese sorg mag dalk beloof word, maar wat is die gehalte daarvan en is dit dadelik beskikbaar in geval van nood, of sal jy moet wag vir byvoorbeeld ’n knievervanging?  Die besluit oor bly of gaan moet dus met ’n sakrekenaar in die hand, koel kop en deeglike navorsing gepaardgaan.

Ten slotte

Wanneer ’n mens dus wik en weeg oor bly, gaan of terugkeer, is die antwoord nie maklik nie en die finansiële en emosionele koste nie gering nie.  Luister gerus na ander mense se ervarings, maar begin by selfkennis van jou en jou gesin en werk van daar af met betroubare inligting voor jy die tasse uithaal of bêre.

AfriForum respekteer die individuele keuse van mense om te bly, te emigreer of te remigreer.  Ons beskou emigrante as ons nie-amptelike ambassadeurs in die buiteland wat steeds ’n belangrike rol kan vertolk om die doelstellings wat AfriForum wil bevorder, vanuit die buiteland te ondersteun.  Dit is ook waarom ons kontak hou deur Wêreldwyd en Vriende van AfriForum.

Dit bly egter ook AfriForum se standpunt dat Afrikaners slegs as taal- en kultuurgemeenskap sal kan voortbestaan Suider-Afrika, veral in gekonsentreerde vestiging en ons werk daarom doelgerig om omstandighede plaaslik te verander sodat Afrikaners nie die land sal wíl verlaat nie.

Ons gun elkeen ’n voorspoedige toekoms en het waardering vir elkeen wat sy of haar roeping met vreugde uitleef.  Ons is dankbaar saam met diegene wat weet waar hulle wil wees en wens die wat wonder, sterkte toe.