Ses vas oor dwelms danksy hulp van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag


AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het op 25 Augustus 2018 tydens ’n patrollie in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies in die Hercules-gebied ses dwelmverwante arrestasies gemaak. Die buurtwag het ongeveer 300 km tydens hierdie patrollie afgelê.
Twee van die verdagtes wat gearresteer is, is na bewering aktiewe dwelmhandelaars in die gebied en het heroïne, kokaïne en dagga (vermoedelik vir verspreidingsdoeleindes) in hul besit gehad. Die SAPD was tydens al die arrestasies teenwoordig.
Volgens Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord, is die arrestasies in twee van die grootste probleemgebiede met betrekking tot dwelmsmokkelary gemaak, naamlik onder die Hendrikstraatbrug en by die Mountain View-treinstasie.

“Dwelmhandelaars wat in dié gebiede aktief is, moet kennis neem van die arrestasies en geen twyfel hê dat ons op hul spoor is nie.”
“Samewerking en ondersteuning – onder meer tussen die gemeenskap, buurtwag en die polisie – speel ’n sleutelrol in misdaadbekamping. Ek wil hiermee in besonder die SAPD se Hercules-tak bedank vir hul aktiewe teenwoordigheid en harde werk om die gemeenskap te beveilig,” sê Johan Liebenberg, voorsitter van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag.
“Gemeenskapslede wat binne die raamwerk van die reg self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem, is die sleutel tot misdaadbekamping,” sê Oosthuizen.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe in die Tshwane-metro om by hul plaaslike AfriForum-takke betrokke te raak en aktief aan die aktiwiteite van die buurtwagte deel te neem. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos na tiaan.oosthuizen@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings