|

Serrie oor plakkaat-herrie gekanselleer

Die Universiteit van Pretoria (UP) het gister aangekondig dat vanjaar se serrie-kompetisie gekanselleer is nadat ʼn storm Dinsdag op sosiale media losgebars het oor die inhoud van plakkate wat manstudente tydens dié kompetisie se uitdunrondtes opgehou het.

Foto’s van dié manstudente se plakkate is deur Fezekile Msimang, ʼn fotograaf vir UP se studentekoerant, Perdeby, geneem en op sy Facebook-blad gedeel. Op van die plakkate wat die mans vasgehou het, het daar gestaan: “Kan ek ’n baba in jou sit?” en “Spoeg of sluk”.

Luidens mediaberigte het Henrico Barnard, voorsitter van UP se tydelike studenteraad, gesê hoewel dit tradisie vir studente is om boodskappe op plakkate vir mekaar te skryf tydens dié kompetisie, het sekere studente dit vanjaar té ver gevat. Barnard sê ook die tydelike studenteraad keur die voorval ten sterkste af en wil hê die universiteit moet dit ondersoek.

Die voorval het plaasgevind te midde ʼn week-lange protesaksie waartydens vrouestudente van die UP op die Hatfield-kampus bymekaargekom het om teen verkragting te betoog. Hulle het plakkate teen vrouemishandeling en verkragting gedra en ook rooigeverfde vroueonderklere op lyne in UP se studentesentrum opgehang.

“UP se reputasie is belangriker as om verkragters te hanteer,” lui een plakkaat.

Volgens die burgerregte-jeugorganisasie AfriForum Jeug is die organisasie sterk gekant teen die krasheid van die plakkate, maar hul meen dat daar eerder reëls in plek gesit moet word om die omstrede optrede van ’n paar individue te voorkom, as om die hele serrie-tradisie te skrap.

Volgens Jaco Grobbelaar, Tuks-koördineerder vir AfriForum Jeug, benadeel die besluit om serrie af te skaf dié studente wat hard geoefen het om deel te neem aan ’n opbouende studentetradisie in plaas daarvan om op te tree teen enkele individue wat hulself nie kan gedra nie.

Volgens Renier Goosen, Afriforum Jeug se Tuks tak-voorsitter, voel studente ook dat die universiteitbestuur slegs gehoor gee aan politieke grille, maar nie ag gee aan dié studente wie geraak word deur die besluite wat hulle neem nie. “Volgens die inligting wat ons het, was die studente wat gekla het oor die onvanpasde plakkate se doel nie dat serrie afgeskaf word nie, maar dat daar teen die skuldige individue opgetree moet word.”

Perdeby het berig dat ʼn welstand-HK van Boekenhout manskoshuis by UP ook van mening is dat die UP serrie gekanselleer het om ʼn vinnige oplossing te bied, eerder as om die werklike probleem aan te spreek.

Hy meen die UP neem nie studente in ag tydens hul besluitnemingsprosesse nie. “Die UP is nie bereid om te sit en studente te betrek wanneer hulle koshuiskultuur of studente kwessies aanpak nie. Niks gaan verander totdat hulle nie ʼn lewendige diskoers met studente begin om hulle besluitneming te verduidelik nie.”

Die UP het in ʼn verklaring op Facebook gesê dat hul TuksRes se sub-komitte se besluit om serrie te kanselleer verwelkom. UP meen dit sal ʼn duidelike boodskap stuur dat die universiteit nie neerhalende en aanstootlike optrede teen vroue duld nie.

Talle studente het hul ontevredenheid oor dié afskaffing op sosiale media uitgespreek en ’n petisie daarteen opgestel.

Gaan na https://www.petitions24.com/bring_back_serrie om jou stem hieroor te laat hoor.

Soortgelyke plasings