|

September-uitgawe van Forum Tydskrif vier Afrikaans

AfriForum-lede se September-uitgawe van die Forum Tydskrif is in die pos en ook nou aanlyn beskikbaar.

In hierdie uitgawe val die fokus op die felle stryd wat daar tans op verskeie vlakke teen Afrikaans as onderrig- en moedertaal gevoer word.

Die burgerregte-organisasie deel met lede inligting oor die talle veldtogte, projekte en hofsake wat aangepak is om Afrikaans se toekoms en voortbestaan te help beskerm en te verseker.

Een van die groot hoogtepunte is die onlangse bekendstelling van die Afrikaanse produksie Slimkoppe as deel van AfriForum se SLIM-veldtog ter bevordering van moedertaalonderrig. Hoërskoolleerlinge is nie net gaande en geïnspireer deur die produksie nie, maar begin ook besef hoe belangrik dit is dat hulself vir hul taal opstaan.

Die produksie kom uit die pen van die skrywer en akteur Chris Vorster wat self nie skaam is om te erken dat Afrikaans in sy gene is nie. ’n Volledige onderhoud met hom verskyn ook in die tydskrif.

Benewens dié en ander insiggewende artikels oor Afrikaans, kan AfriForum-lede ook uitsien na lekkerlees-verrassings oor vermaak, ’n nuwe Afrikaanse koshuis wat geopen het, die stryd teen sportkwotas wat algaande momentum kry, vrae oor die nuwe openbare beskermer en die talle veldtogte en projekte wat in dorpe en stede aangepak is om die lewensgehalte van inwoners te verbeter.

In hierdie uitgawe wys ons lede watter enorme verskil hul ondersteuning en bydraes maak om te help om vir minderhede ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms in die land te help skep.

Lekker lees!

 

Soortgelyke plasings