|

Selfdoen is beter as niksdoen, sê AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog het gister afgeskop met ʼn groot padveiligheid-aksie in Delmas.

Nagenoeg 100 lede van AfriForum se hoofkantoor, die plaaslike AfriForum-tak, lede van die Delmas-gemeenskap en privaat kontrakteurs het saamgespan om stopstrate, voetoorgange en spoedhobbels in dié dorp te verf en stoptekens en straatnaamborde wat weggeraak het, te vervang.

Die veldtog spruit uit die organisasie se 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog van 2015, waartydens sowat 200 selfdoen-aksies binne tien dae uitgevoer is. AfriForum het vanjaar onderneem om ʼn groter impak in gemeenskappe te maak deur ʼn hele maand op een spesifieke munisipale kwessie te fokus.

Die burgerregte-organisasie het ook vroeër vanjaar gedurende hul nasionale slaggatmaand-veldtog bykans 16 000 slaggate teen R2 479 000 landwyd herstel.

Volgens Hein Gonzales, AfriForum se streekshoof vir Mpumalanga, word gemeenskappe soos Delmas gekonfronteer met grootskaalse munisipale krisisse wat dié dorp en sy inwoners onder geweldige druk plaas.

“Met hierdie veldtog wil AfriForum vir gemeenskappe wys dat hulle nie in die staat se oë hoef te kyk vir goeie dienslewering nie. Ons gaan dit doen deur projekte van stapel te stuur wat hulle bemagtig en die geleentheid gee om hul regte tot ʼn skoon en veilige omgewing in hul eie hande te neem.”

Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak, het aan Forum Nuus gesê dat hierdie tipe inisiatiewe ʼn kritiese rol in gemeenskappe speel. As voorbeeld het hy verduidelik dat ʼn gebrek aan stoptekens onlangs ’n groot ongeluk in dié dorp se hoofstraat veroorsaak het, wat vermy kon word indien die munisipaliteit hul pligte nagekom het.

“Iets soos stoptekens, wat deel is van basiese padveiligheid, kan die verskil tussen lewe en die dood beteken. Ons gemeenskappe moet begin besef dat hulle hulself kan bemagtig én bemoedig deur saam te staan en deel van die oplossing te wees.”

AfriForum se se Maand van Selfstandigheid-veldtog skop amptelik op 4 Oktober af. Ons nooi die publiek uit om betrokke te raak deur die naam van hul dorp te sms na 45344.

Soortgelyke plasings