--> -->
Spyskaart +

Sê NEE vir kwotas in sport en elders

Maart 7, 2019 deur Kallie Kriel

Rassekwotas het pas weer opslae gemaak nadat Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA) opdrag gegee het dat ten minste 40% van provinsiale skolespanne uit “voorheen benadeelde” (swart?) atlete moet bestaan. Swart atlete móét ingesluit word – selfs in gevalle waar hulle nie aan kwalifiserende vereistes voldoen nie.

AfriForum Jeug het reeds in ’n prokureursbrief aan SASA aangedui dat dié burgerregte-organisasie die saak in die howe sal beveg. Die prokureursbrief is gestuur in dieselfde week waarin AfriForum se susterorganisasie, Solidariteit, met ’n regstryd in die arbeidshof begin het om sportkwotas in professionele sport onwettig te laat verklaar.

Vir die nuutste verwikkeling volg die skakel: AfriForum Jeug gee Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA) uitklophou oor rassekwotabeleid.

AfriForum en Solidariteit sê nee vir rassekwotas, omdat dit nie net die sportdrome van jong mense vanuit minderheidsgemeenskappe vernietig nie, maar ook omdat dit wit en bruin beroepsportlui en werknemers in byna elke werksplek se loopbane benadeel.

Dit is juis om hierdie rede dat AfriForum en Solidariteit ’n gesamentlike veldtog teen rassekwotas geloods het. Dié veldtog behels onder meer regsaksie in Suid-Afrikaanse howe en klagtes wat by die Verenigde Nasies, die Internasionale Arbeidsorganisasie en internasionale sportliggame ingedien gaan word.

Wat kwotas in sport betref, is rassekwotas nie net strydig met internasionale sportregulasies nie, maar laat ook die vraag ontstaan of wit en bruin sportlui tweedeklas-burgers is.

In terme van die ANC se rasse-ideologie is transformasie bloot ’n kodewoord vir “swart” oorheersing oor al wat instelling en terrein is. In terme van dié transformasie-ideologie is enige instelling wat oorwegend wit of bruin mag wees of uit te veel Afrikaners bestaan, onaanvaarbaar en ongeloofwaardig.

Die regering wil sien dat meer “swart” spelers en atlete gekies word. Die siening is abnormaal en in wese rassisties. Indien dit as normaal beskou word, beteken dit dat dit normaal is dat wit mense, bruin mense en Afrikaners tweederangse burgers in hul land van geboorte is en nêrens ’n prominente rol mag speel nie; ook dat wit en bruin spelers en atlete gereduseer word tot mense wat nie hul land tot dieselfde mate as swart spelers en atlete kan verteenwoordig nie. Dit impliseer ’n permanente onderdanigheid aan die demografie van die land.

’n Normale verskynsel is eerder dié van die VSA se nasionale basketbalspan, wat oorwegend swart is in ’n land waar swart mense ’n minderheid is, maar steeds die steun van alle landsburgers geniet. Bloot omdat die spelers ’n minderheidsgemeenskap verteenwoordig, beteken nie dat hulle tweederangse burgers is wat nie hul land in groot getalle mag verteenwoordig nie. Tydens Suid-Afrika se nasionale sokkerspan se deelname aan die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi is nie ’n enkele wit speler in die span ingesluit nie. Tog het die span wye steun vanuit die sogenaamde wit gemeenskap ontvang. Werklike sportliefhebbers wil die beste span sien speel – ongeag hul ras. Rasse-ideoloë misbruik sport om hul agendas te bevorder en stel weinig in resultate op die veld belang. Ware sportliefhebbers moet dus daarteen waak – selfs al is dit om ’n goeie gesindheid te wil toon – om nie vir lief te neem met die ANC-transformasiestyl in sport nie.

Die skade wat die ANC se transformasie-agenda sowel wit as swart spelers en atlete aandoen, is net té groot om goedsmoeds te aanvaar. Geen spelers of atlete verdien om nie gekies te word nie bloot omdat dit ’n genetiese toeval is dat hulle met ’n wit of bruin vel gebore is. Geen mooi praatjies oor die belangrikheid van transformasie regverdig dat jong wit en bruin spelers en atlete se drome weens rasseredes vernietig word nie. Swart spelers en atlete wat die span wel op meriete haal, word boonop deur transformasie benadeel, omdat hulle onverdiend die kwota-etiket om die nek gehang word. Ondersteuners word ook benadeel, want hulle weet nie meer of hulle sport of politiek kyk nie.

Die ANC-styl vir die najaag van getalle deur kwotas ontwikkel ook nie nuwe spelers en atlete nie. Kwotas word van bo af op spanne afgedwing, en nuwe spelers en atlete wat van onder af ontwikkel moet word, is steeds afwesig. Indien die regering en sportliggame werklikwaar ’n verskil wil maak, sal hulle eerder ’n verskerpte fokus op ontwikkelingsprogramme moet begin plaas. Dit is werklike, eerbare, geloofwaardige vordering. Enigiets anders is ’n pleister.

Uiteindelik is die kwotastelsel die duidelikste bewys nóg dat die regering sy plig versuim het om sport in Suid-Afrika te ontwikkel. Werklike, geloofwaardige, betekenisvolle vordering behels meer as een of twee fotosessies waar ’n paar uitgesoekte joernaliste foto’s neem van sportlui wat T-hemde aan kinders uitdeel. Dit behels eerder dat die regering die 80% van die land se skole wat wanfunksioneel is, moet regruk. Dis nie net die akademie wat onder swak onderwys ly nie; van sportontwikkeling is daar ook geen sprake by dié skole nie. Die meeste topsportpresteerders se liefde vir sport is deur toegewyde onderwysers in voormalige Model C-skole gekweek. Dit kan nie verander word deur oor die rassesamestelling van Suid-Afrikaanse sportspanne te kla nie.

Sommige mag aangevoer dat sportliggame nou moet transformeer om te verhoed dat die ANC die sport verder straf. Die argument is amper soos om aan te voer dat jy selfmoord moet pleeg om te verhoed dat iemand jou vermoor. Feit van die saak is: Die weglating van spelers of atlete omdat hulle wit of bruin is, het reeds die span verswak. Dié soort onreg kan nie verhoed word deur transformasie nou te wil omarm nie.

AfriForum beywer sigself vir die normalisering van sport, want dit is normaal om die beste span ongeag ras en sonder politieke inmenging te kies. So nie, gaan Suid-Afrikaanse sport aanhou agteruitgaan totdat ons uiteindelik geensins meer internasionaal kompeterend is nie. Die tekens is daar dat dit reeds besig is om te gebeur.

Hoe polities inkorrek dit ook al binne die huidige politieke diskoers mag klink, is dit nou die tyd om hard en duidelik nee te sê vir rassekwotas in sowel sport as die werksplek.

Verset jy jou teen kwotas?

Voeg dan jou naam saam met AfriForum se lys teen kwotas. Elke naam versterk die saak op ’n internasionale en nasionale vlak.